Plaaslike rolbalkringe, sowel as vriende en familie het die afgelope week hulde aan die 95-jarige Herman Stange van die Potchefstroom Buiteklub Rolbal, met die viering van sy verjaarsdag gebring.
Die wêreld verwelkom vir Stange op 15 September 1926 in Kaapstad. Kort na die tweede wêreldoorlog is Herman met sy vrou getroud en nadat hy aanvanklik by ‘n skoenfabriek begin werk het, het hy ‘n pos by Witrand Hospitaal as Psigiatriese Verpleër aanvaar.
Hier verrig hy diens tot die dag van sy aftrede. Dit was egter ‘n groot droom van hom om ‘n lokomotiefdrywer te word.
Hierdie droom leef hy nou uit in sy enorme versameling van model treine en karretjies, wat ‘n mens stom laat. Sommige hiervan het hy met sy eie hande gebou.

In 1955 begin hy vir die eerste maal rolbal speel en 66 jaar later, beoefen hy steeds hierdie geliefde sport. Vir jare het Herman geen begeerte gehad om die sogenaamde ‘oumens balletjies’ te rol nie en het aanvanklik sy tyd op die sokkerveld verwyl.
Op ‘n vriend se aandrang het hy egter tog een middag saam gaan speel en na sy tweede keer op die baan het die gogga hom gebyt. Soos die noodlot dit wou hê, wen hy sy eerste en enigste stel ‘houte’ tydens ‘n kompetisie by die destydse Witrand Rolbal Klub, dieselfde stel waarmee hy steeds speel.
Herman het tot dusver ‘n baie suksesvolle rolballoopbaan gehad en spog met menige prestasies op die rolbal baan van klub- tot Distriksvlak.

In sy 95 jaar oorleef Herman menige vriende en familie, insluitend sy enigste seun, maar deel steeds met trots in sy kleinseun se suksesse, as die eienaar van Broken Pot.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/67314/herman-en-viv-potch-buiteklub-se-veteraan-rolbalpaar-soos-n-fynproewerswyn/
Hy is vergenoegd met en dankbaar vir ‘n vol lewe, geseënd met goeie gesondheid, kos op sy tafel, ‘n dak oor sy kop en baie genade van die Here.

“Oom Herman, ons rolbal familie en vriende van PCC Rolbal Klub wens jou baie geluk met hierdie mylpaal viering en bid jou alle voorspoed en seëninge toe vorentoe. Jy is ‘n legende!” 



