Die Suid Afrikaanse Nasionale sweeftuig kampioenskappe word van 3 Oktober tot 9 Oktober 2021 by Potchefstroom Lughawe vanjaar beslis. Akavlieg – Potch Gliding bied die kampioenskappe aan.
Klasse sluit klub, 15m en dubbel klasse in. Hierdie behoort ‘n byeenkoms te wees waar die land se bestes die lug met hulle talente behoorlik sal inkleur.

’n Sweeftuig is ‘n vliegtuig wat sonder n motor deur die lug kan sweef. Sweeftuie kan ure lank vlieg as daar genoeg lugstrome (thermals) is om hulle in die lug te hou. Vlugte van meer as 1000km word gereeld in SA gedoen.
Sweeftuie het besonder lang vlerke om hul stygkrag te verhoog en word van ligte materiale vervaardig. Laaghout, veselglas of “fibre composites” word gewoonlik hiervoor ingespan. Sommige beskik oor ‘n klein enjintjie om hul vlug mee te verleng en sommige kan selfs op eie stoom opstyg.
Die vlieënier moet stygende lugstrome vind om in die lug te bly. Sulke lugstrome word veroorsaak deur wind wat teen heuwels opwaai, asook deur warm stygende lugstrome. Die langste sweeftuigvlug was 1600 km. In ons omgewing is daar twee gevestigde klubs, Potchefstroom en Parys (In SA is daar 18 klubs met meer as 400 vlieëniers). Altwee klubs bestaan al langer as 40 jaar.
Opleiding vind plaas deur gekwalifiseerde instrukteurs onder die wakende oog van burgerlugvaart. Opleiding is goedkoop en kan ’n vlieenier ’n GPL (Glider Pilot Licence) bekom vir ongeveer n vyfde van n gewone vlieglisensie. Klubs het sweeftuie en hoef nuwe vlieëniers eintlik nooit ’n sweeftuig te koop nie.
Vlieëniers word opgelei vanaf 14 jaar tot 65 en ouer. Suid Afrika het sy eie wêreldkampioen, die Potchefstromer, Oscar Goudriaan wat deelgeneem het in Frankryk aan die Wêreld Sweeftuig Grand Prix finaal.
Indien meer inligting oor hierdie ongelooflike sport benodig word kan Parys (Mark Pretorius – 083 701 0493) of Potchefstroom (Jason Adriaan – 079 030 6500) gekontak word.
Besoek ook gerus die webtuiste www.sssa.org.za of Facebook by “Soaring Society of South Africa”. 



