Riaan Venter Tennisakademie se jong tennissterre bring drie groot titels Potch toe
Al hierdie oortuigende vertonings is ‘n pluimpie vir die afrigting en fasiliteite by die Riaan Venter Tennisakademie verbonde aan die NWU, en getuig in watter top vorm hierdie spelers is om sulke kwaliteit tennis te speel.
Drie van die Riaan Venter Tennisakademie op die NWU se blink jong tennisspelers het ‘n rare prestasie in die akademie se geskiedenis behaal toe almal die Growthpoint SA Masters-titels in Pretoria verower het.
Suzanie Pretorius (o.18), Mari-Louise van Zyl (o.16) en Jahnie van Zyl (o.12) het almal die top prys verower in die grootste plaaslike toernooi van die jaar waar slegs die top 8 in elke ouderdomsgroep vir dié toernooi genooi word. Suzanie het vir Ané Dannhauser met 6-0, 6-1 geklop, Mari-Louise het vir Erin McKenzie met 6-0, 6-0 verslaan en Jahnie het vir Roxy Bredenkamp met 6-3, 6-2 oorwin.

Al hierdie oortuigende vertonings is ‘n pluimpie vir die afrigting en fasiliteite by die Riaan Venter Tennisakademie verbonde aan die NWU, en getuig in watter top vorm hierdie spelers is om sulke kwaliteit tennis te speel. “Ek is baie trots op hulle almal. Ek weet nie of dit weer sommer sal gebeur dat daar drie wenners uit dieselfde akademie uit kom nie. Ons sit harde werk en tyd in en ‘n mens kan dit op die baan sien,” noem hulle afrigter, Riaan Venter.
Volgens hom is daar ook ‘n baie goeie atmosfeer by die akademie en dat die tennispelers juis floreer daaroor. “Hulle is gefokus en gemotiveerd om die beste te wees en hulle tennis heeltyd te verbeter,” noem hy verder. Suzanie noem dat sy bly is oor haar oorwinning en dat dit haar jaar op ‘n hoogtepunt afsluit.

“Dit was vir my ‘n baie goeie jaar gewees. Riaan het my mooi gehelp om vir die Masters voor te berei en my rustig te hou. ‘n Mens het nie altyd die geleentheid om in ‘n finaal te speel nie, so ek wou dit net gaan genie ten my beste gee. Toe ek my oë weer uitvee, was ek een punt weg van ‘n wen in die toernooi,” vertel Suzanie.

Mari-Louise se strategie is om gefokus te bly en nie te ver vooruit te dink nie en elke wedstryd punt vir punt te speel “Ek het net ‘n maand se voorbereiding met Riaan gehad en ek was net bly dat ons weer aan ‘n Masters kon deelneem, omdat verlede jaar s’n afgestel was. Die tennis is baie kompeterend so dit maak dit spesiaal om die toernooi te kon wen, wat die toernooi nog beter maak is dat my sussie ook gewen het. Ek is baie bly vir haar,” vertel Mari-Louise.




