Die NWU se eerste krieketspan het die verdediging van hul NW Premier Klubkrieket-ligatitel op ‘n hoë noot begin toe hulle vir Potch Dorp I op Saterdag, 8 Oktober met 95 lopies op Witrand se velde geklop het.
Die tuisspan, Potch Dorp, het nie antwoorde gehad vir die NWU se kolwers op die dag nie, wat met ‘n totaal van 322/5 die platform vir oorwinning gelê het. Potch Dorp kon net 227 almal uit aanteken.
Die NWU se linkshandige middelorde kolwer, Heinrigh Pieterse, het ‘n puik 154 (146) geslaan wat 14 viere en 7 sesse ingesluit het. Pieterse het rustig begin, maar toe hy eers sy voete vind, het die lopies van sy kolf gevloei. JP King met 71 (86) het hom ook goed bygestaan in ‘n 125 lopie vennootskap. Potch Dorp se boulers het vroeg toegesak en op ‘n stadium was die NWU op 14/2 nadat NWU kaptein, Chris Britz, met sy eerste bal een van Casper du Plessis (3/75) se slagoffers was.
Foto’s: Wouter Pienaar
Zian de Jager (0/44) was ook een van Potch Dorp se meer ekonomiese boulers op die dag met sy draaiballe.
Potch Dorp se kolwers van van die begin af onder druk danksy die regs en linkshandige kombinasie van Jesse James Albanie (3/31) en Connor de Boer (3/29).
Op 87/5 was Dorp kniediep in die moeilikheid en kon nie van daardie posisie af die lopietempo najaag nie. Zian de Jager (52 van 50 balle) en Casper du Plessis (55 van 63) balle het die telbord met hulle beurte bietjie ingekleur.
Geen toporde kolwer kon ‘n vyftigtal maak en die beurt anker nie, en sodoende kon die tuisspan net nie ‘n voldoende aanslag lewer nie.






















