Volkies se eerste krieketspan het vandag ‘n nuwe hoofstuk in hulle krieketgeskiedenis geskryf toe hulle na die Noord-Suid Krieketfinaal deurgedring het.
Hoër Volkskool Potchefstroom is vir die eerste keer in die gesogte Noord-Suid T20 Krieketfinaal nadat hulle vandag (Saterdag, 15 Oktober) vir Grey College in die kwarteindstryd met 9 paaltjies oorrompel het en toe vir Westville Boys High met 36 lopies in die half-eindstryd geklop het.
Volkies se afrigter, Wynand Schmitt, noem dat sy span vir môre se eindstryd net die basiese goed implimenteer en by hul wedstrydplan hou.
“Alles is op ‘n volgende vlak. Die krieket op die veld, organisering, en verblyf. Die beste spanne in die land is ook hier. Ons het goed voorberei en goeie planne vir die skole gehad. Môre moet ons net doen wat ons sovêr goed gedoen het en dis om die basiese goed te te doen en die planne uit te voer.”

Sondag (16 Oktober) sal Volkies net een stap weg wees van ‘n eerste titel wanneer hulle teen Hoërskool Waterkloof in die eindstryd om 09:30 op Camp Discovery se velde in Pretoria te staan kom.
Volkies se manne in swart is nog onoorwonne in hierdie toernooi en het bo-aan die punteleer in groep A geëindig met oortuigende oorwinnings teen Wynberg Boys High (Kaapstad) met 50 lopies, St. Stithians College (Johannesburg) met 18 lopies en Grey High (PE) met 6 paaltjies.

Dit is ‘n verstommende goeie resultaat alreeds om net vir die kwarteindstryd te kon kwalifiseer in ‘n moeilike groep. Wynberg is vierde in die land, St. Stithians sesde en Grey High tiende.
Volkies is tans 32ste op die ranglys vir eerste skole krieketspanne in die land en het toe ook daarin geslaag om vir Grey College (9de) en Westville Boys High (14de) ook ore aan te sit.
Volkies se sterkpunt vanjaar is dat almal tot die span se sukses bydrae – daar word nie op een of twee spelers gefokus nie.
In die openingswedstryd moker Ludwich Schuld (78 van 40 balle) en Corné Nel 40 (26) om hul skool na 192/8 teen Wynberg te neem.
Schuld hou aan met sy goeie vorm en teken ‘n indrukwekkende 95 lopies aan teen St Stithians. Hier beperk Janco Moolman (3/9) in drie beurte en Divan Coetzee (3/27) in vier beurte vir Saints tot 148 almal uit toe hulle 166 vir oorwinning gejaag het.
Teen Grey High is die draaiers, Dian Liebenberg (3/22) in vier beurte en Diaan van der Merwe (2/18) in vier beurte en Christiaan Smit (1/16) in vier beurte, grootliks die rede vir Volkies se oorwinning met 6 paaltjies.
Die kwarteindstryd teen Grey College swaai vinnig in Volkies se guns met John van Wyk wat met 3/18 in 4 beurte uitblink.
Grey teken slegs 109/8 in 20 beurte aan. Die Potchefstromers behaal die teiken in slegs 11 beurte. Schuld (59*) slaan sy derde vyftigtal van die toernooi. Volkies kaptein Corné Prinsloo maak ook ‘n onoorwonne 25.
Die halfeindstryd is taaier teen Westville Boys High, maar danksy Attie Liebenberg se 62 en Corné Prinsloo se 37 maak hulle ‘n stywe 201/8 na 20 beurte.
Goeie boulwerk van die snelbouler, Kobus Pienaar (2/17) en Prinsloo (2/31) beperk Westville tot 165/8 om Volkievreugde op ‘n historiese dag te kan verskaf.
Beknopte telkaarte:
* Volkies teen Wynberg * (Groepwedstryd)
Volkies
192/8 na 20 beurte
Ludwich Schuld – 78 lopies van 40 balle
Corné Nel – 40 lopies van 26 balle
Wynberg
142/7 na 20 beurte
Corné Prinsloo – 3/27 in vier beurte.
*St Stithians teen Volkies* (Groepwedstryd)
Volkies
166/7 na 20 beurte
Ludwich Schuld – 95 lopies
Louis van Wyk – 35 lopies
Saints
148/10 na 18.3 beurte
Janco Moolman – 3/9 na 3 beurte
Divan Coetzee – 3/27 na 4 beurte
*Volkies teen Grey High (PE)* (Groepwedstryd)
Grey High
143/7 na 20 beurte
Dian Liebenberg – 3/22 in 4 beurte
Diaan van der Merwe – 2/18 in 4 beurte
Christiaan Smit – 1/16 in 4 beurte
Volkies
146/4 na 18.4 beurte
Ludwich Schuld- 44 lopies
Attie Liebenberg- 32 lopies
Corné Prinsloo – 29 lopies
Volkies wen met 6 paaltjies
Volkies teen Grey College (kwarteindstryd).
Volkies wen die loot en besluit om eerste te boul.
Grey College
109/8 na 20 beurte
John van Wyk – 3/18 in 4 beurte
Volkies
114/1 na 11 beurte
Ludwich Schuld – 59* lopies
Corné Prinsloo – 25* lopies
Volkies wen met 9 paaltjies.
Volkies teen Westville Boys High
Volkies wen die loot en besluit om eerste te kolf.
Volkies
201/8 na 20 beurte
Attie Liebenberg – 62 lopies
Corné Prinsloo – 37 lopies
Westville
165/8 na 20 beurte
Kobus Pienaar – 2/17 in 2 beurte
Corné Prinsloo – 2/31 in 4 beurte
Volkies wen met 36 lopies.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



