Volkies se hotklou openingskolwer, Ludwich Schuld, het gister (Donderdag, 15 Desember) in Noordwes se eerste wedstryd van die 2022 o.19 Khaya Majola Krieketweek in Stellenbosch teen die Oostelike Provinsie sy stempel behoorlik met ‘n onoorwonne hondertal afgedruk.
Schuld het vir sy provinsie geskitter en sy goeie vorm vanjaar voortgesit met ‘n aggressiewe beurt van 119* (97) wat 4 viere en 10 sesse ingesluit het. Hierdie speler van die wedstryd het ook sy honderdtal met ‘n massiewe ses van slegs 79 balle beklink. Sodoende het Noordwes maklik vir OP met 7 paaltjies geklop nadat hulle 188 moes jaag vir ‘n oorwinning in 50 boulbeurte.
Noordwes het die teiken in slegs 32.2 boulbeurte bereik met Corné Prinsloo (14* van 16 balle) wat saam met sy Volkie skoolmaat die wenlopies slaan.
Vroeër het Noordwes se boulers hulle goed van hulle taak laat kwyt om OP tot 187 almal uit te beperk. Prinsloo neem 2/32 in 8 boulbeurte. Gimmies se Martin Bullock neem 2/43 met sy draaiballe terwyl HTS Vaal Reefs se Tumelo Makume (3/29) neem met sy bybreekballe.
Noordwes se o.19 seuns speel vandag teen Oostelikes om 10:00 in die tweede wedstryd van die week.