
Dit was gisteraand, 5 April, ‘n baie goeie begin vir die NWU se Koshuisrugbyliga.
Elke wedstryd wat tussen die verskeie koshuise se 1ste spanne in die Superliga gespeel was, was baie kompeterend gewees.
Verlede jaar se kampioene, Caput het 18 – 10 oor De Wilgers geseëvier. Volgens Henry Stewart, afrigter van Caput was dit ‘n slordige wen van die kampioene se kant af.
“‘n Lelike wen is soms nodig om jou karakter te toets en te herbesin oor wat nodig is om sukses te behaal,” het Stewart oor die wedstryd gesê.
De Wilgers se afrigter, Mitch Coetzee was vol lof vir sy spelers gewees.
Ek is verseker baie tevrede, aangesien van die min voorbereiding wat ons gehad het. Ek dink De Wilgers is virseker die span om dop te hou die jaar vir uitspeel rondtes. Die manne het groot doelwitte vanjaar en ek en Coach Riaan koop 100% in by die ouens,” het Coetzee gesê.
Heimat en Veritas het mekaar ook tot in die rooi gedruk, maar uiteindelik het Veritas met 10 -7 gewen.
Volgens Ivan van der Sandt, afrigter van Heimat, het die manne baie goed gespeel, maar het gesukkel om af te rond.
“Ons was seker 70% van die wedstryd in hulle helfte gewees maar die bal het net nie na ons kant toe gehop nie. Ons is baie opgewonde vir die jaar, ons het baie positiewe uit die wedstryd uit gevat,” verduidelik Van der Sandt.
Heimat lyk klaar of hulle groot verbeteringe teenoor verlede jaar gemaak het.
“Ons is baie tevrede, veral omdat dit die eerste wedstryd is. Daar is ‘n soliede fondasie waarop ons kan bou. Ek dink dit gaan net beter gaan van hier af. Heimat is ‘n baie sterk span gewees gisteraand en ek dink hulle gaan nog ver kom die jaar, die wedstryd kon rêrig enige kant toe gegaan het,” het De Wet Du Rand afrigter van Veritas na afloop van die wedstryd gesê.
Patria was ook in ‘n naelskraap affêre met Villagers betrokke. Hulle het uiteindelik 22- 17 as wenners uit die stryd getree.
Volgens afrigter, Armand Buys, is hy baie trots en positief vir die seisoen wat voorlê.
“Daar is verseker nog baie werk wat gedoen moet word aan ons kant, maar die goeie punte wat ek uit ons wedstryd sal vat is dat ons onder druk kan speel. “When push comes to shove” het ons die wedstryd deur getrek en dit is wat saak maak. Die tye wat ons die “game plan” gerhardloop het, het ons goed gelyk maar daar is wel net ‘n paar “finishing touches” waar ons, ons self gaan moet op skerp,” het Buys aan die Herald gesê.
Dalk die grootste verrassing op die aand was toe Excelsior vir Overs met 15 -7 geklop het. Excelsior speel vanjaar vir die eerste keer in ‘n paar jaar weer in die Superliga nadat hulle verlede jaar die Premierliga onoorwonne afgesluit het.
Volgens Dustin Wetdewich, afrigter van Overs, was dit ‘n tipiese ‘derby’ wedstryd gewees.
“Finale, wedstryde in die reen en ‘derby’ wedstryde is almal groot gelykmakers. Ek dink ons het Excelsior onderskat, nadat hulle vroeg voorgeloop het, was ons onder druk as die gunstelinge en het die res van die wedstryd die telling gejaag. Mens wen of jy leer, en ons het baie goeie lesse uit die wedstryd uit geleer. Ons tel ons koppe op en beweeg vorentoe,” het Wetdewich gesê.
Volgens JJ van der Walt, afrigter van Excelsior, is daar nog heelwat waaraan die span moet werk maar dat die ouens vir die trots van die koshuis en die ou langs hom gespeel.
Sy mede-afrigter, Henri van der Westhuizen het beaam dat daar nog werk is maar dat hulle trots is op die span. “Die manne van Excelsior het gisteraand werklik hulle alles op die veld gelos. Daar is plek vir verbetering en hulle weet dit ook. Hulle het vir mekaar en vir die koshuis gespeel. Daar was oomblikke waar hulle gewys het wat in hulle steek en wat hulle kan doen. Ons is baie trots op die manne en sien uit vir die seisoen wat voorlê,” het Van Der Westhuizen gesê.
Die volgende rondte wedstryde vind volgende week Vrydag op die Joolvelde plaas.



