Potchefstroom Gimnasium se blits, Sandri van Rooyen, is die nuwe SA kampioen in die dogters o.17 100 meter en 100 meter hekkies. Sy het goud in die 4x100m aflos behaal, wat haar algehele totaal na drie goues bring.
Dit na sy tydens die Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (SASA) Hoërskole kampioenskappe haar stempel teen die bestes afgedruk het vanaf 2-5 April in Germiston.
Van Rooyen behaal ‘n persoonlike beste tyd van 11.81 sekondes in die 100 meter om goud te behaal. Sy het eers behoorlik spoed opgetel op die laaste 50 meter en toe op die laaste 20 meter verby haar opponente soos ‘n warrelwind beweeg.

Chardoné Smidt van Gauteng eindig tweede in 11.87 sekondes. Sy het ‘n beter begin gehad, en vir ‘n lang gedeelte voorgeloop voor Gimmies se spoedvraat ‘n ekstra rat bereik het.
Van Rooyen behaal goud in die 100m hekkies in ‘n naelbyt-wedloop waar sy vir Lana Oberholzer (Wes-Kaap) met slegs 0.01 sekondes klop. Van Rooyen eindig in 13.63 en Oberholzer in 13.64 sekondes. Dit is ‘n groot prestasie vir hierdie 17-jarige wat onder die afrigting van Werner Burger, groot hoogtes behaal.

Stephané Hook (afgerig deur die ervare Koos Smit) is nog ‘n Gimmie wat goud behaal in die dogters o.15 spiesgooi-item met ‘n gooi van 46.22 meter. Dit nadat sy ook goud by die ASA Junior en Jeugkampioenskappe in Pietermaritzburg verlede maand verower het.

Marizel Meintjies (Volkies) behaal goud in die dogters o.17 10km stap-item in ‘n tyd van 59:07.09. Sy is in top vorm vanjaar na silwer by die ASA Junior en Jeugkampioenskappe en hou aan verbeter onder die afrigting van Cobus Groenewald.
Seegers du Plessis (Gimmies) behaal silwer in die seuns o.19 hoogspring met ‘n hoogte van 1.95m.





