Volkies se eerste krieketspan het die afgelope week geskiedenis gemaak toe hulle vir die eerste keer die Tokkie Fourie Super Over-toernooi tydens Hoërskool Nelspruit se Mozzieweek verower het.
Volkies het teen agt ander skole in hierdie kompetisie meegeding wat ‘n jaarliks as ‘n afskop van die Mozzieweek dien.
Die manne van Potchefstroom onder die afrigting van Wynand Schmitt, het vir Transvalia in die eindstryd geklop na hulle ook vir Jeppe Boys High en Oman in die groepwedstryde en Eldoraine in die half-eindstryd geklop het.

Dit is geen wonder dat Volkies dan met hierdie momentum ook verder in die Mozzieweek hulle stem laat tel het nie.
Ludwich Schuld het weer eens bewys dat hy een van die land se top aanvangskolwers op skolevlak is toe hy drie agtereenvolgende honderdtalle aangeteken het.
Schuld (118 van 112 balle) en Berno de Klerk (122 van 131) baan die weg in hulle eerste tydkrieket kragmeting teen Midstream College. Hulle vennootskap van 198 lopies was ‘n skouspel van aanvallende krieket in hulle groottotaal van 292/6 in 55 beurte.
Midstream se kolwers het geen antwoord vir die Volkie-masjien nie en word vir slegs 84 uitgeboul. Die draaiers, Diaan van der Merwe (3/24) in 10 boulbeurte en Olefa Padi (3/12) in 4 boulbeurte maak amok en Volkies wen met 208 lopies.
Transvalia se eerste span doen nie veel beter in ‘n 50-beurt wedstryd nie en verloor met 186 lopies. Volkies behaal 275 almal uit met Attie Liebenberg se 125 (99) en Schuld se 100 (86) wat die oog vang. De Klerk met 4/10 help om Transvalia vir 89 uit te boul.

In die derde wedstryd (50-beurte) kom Volkies teen Oman Krieketakademie te staan. Die buitelanders swig ook teen Schuld se wilgerlat met die hotklou wat 125 (111) aanteken in Volkies se totaal van 242 almal uit.
Volkies knikker Oman vir 145 uit en wen met 97 lopies. Olefa Padi wys weer sy vernuf met 2/14 in 6 beurte.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!





