Laerskool Baillie Park se bobaas bergfietsryer, Henrey Jacobs, is die nuwe SA XCO (Cross-Country) bergfietskampioen in die Nipper-kategorie na ‘n skitterende eerste plek tydens die SA XCO Cup-byeenkoms in Pietermaritzburg.
Hierdie SA kampioenskappe het op Saterdag, 22 Julie by die bekende Cascades bergfietspark plaasgevind.
Sy afrigter, Kristen van der Berg, het ook in 2016 ‘n eerste plek by die SA Kampioenskappe destyds vir Volkies behaal by dieselfde baan. Duidelik is dit ‘n baan waar Potchefstromers hulle staal wys.
“Ek is baie trots op elke Baillie-ryer wat deelgeneem het. Op daardie baan is elkeen ‘n wenner! Dit was vir die ryers ‘n belewenis en vir my ‘n groot voorreg om hulle te sien ry op die baan waar ek ook SA’s gewen het in 2016. My hart voel só trots,” noem Van der Berg.
Ses van Baillies se gedugte bergfietsryers het aan hierdie SA XCO-byeenkoms deelgeneem Hulle is Henrey Jacobs, Jason Gouws, Jemma Gouws, Grizelda Janse van Rensburg, Zandri Janse van Rensburg en JP Cromhout.
Die Janse van Rensburg-sussies het ook albei top 10 plekke in die Nipper-meisies kategorie behaal.
Uitslae is as volg:
Nipper Seuns:
Henrey Jacobs: 1ste
Jp Cromhout: 19de
Nipper Meisies:
Grizelda Janse van Rensburg: 7de
Zandri Janse van Rensburg: 9de
Jemma Gouws: 12de
Sub Junior Seuns:
Jason Gouws: 27ste






