
‘n Boulvertoning uit die boonste rakke het Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan na ‘n welverdiende 50-lopie oorwinning teen Grey Kollege in die eindstryd van die Diamantveld Krieketfees in Kimberley gelei.
Hierdie eindstryd wat op die Diamond Oval in Kimberley op Maandag, 25 September, plaasgevind het, was weer ‘n bewys van die vegtersgees wat Volkies gewys het na hulle op ‘n stadium met hul rug teen die muur was.

Volkies was 70/7, maar ‘n 49-lopie vennootskap tussen Eduan van der Merwe (22 van 21 balle) en Dian Liebenberg (27 van 15 balle) het gesorg dat hul span ‘n totaal van 140/9 in hul 20 boulbeurte bereik.
Kobus Pienaar met 26 (21) het ook goeie veggees gewys.
Volkies se boulers moes steeds met vuur en akkuraatheid boul om Grey Kollege te beperk. Berno de Klerk (3/10) was uitstekend en voor Grey hul oe kon uitvee was hul 31/4.

Ruben Maree met 45 (42) was die enigste Grey-kolwer wat weerstand kon bied. Toe Liebenberg (2/24) sy paaltjie neem was die koeël deur die kerk.
Twee balle later laat Liebenberg Darion Rabie se paaltjies spat om die wen vir die Potchefstroomers te beklink deur Grey Kollege vir slegs 90 uit te boul. Sodoende is Volkies die eerste wenners van die toernooi.
Hierdie oorwinning was goeie voorbereiding vir die opkomende Noord-Suid T20 toernooi wat vanaf 12-15 Oktober in Pretoria plaasvind.
Volkies is in groep A saam met Wynberg Boys High, Hoërskool Centurion en Selborne College ingedeel.
Diamantveld Krieketfees beknopte uitslae:
o.15’s
Verloor met 11 lopies teen St Andrews
St Andrews kry 141 vir 8 en boul Volkies vir 130 uit
Wen met 190 lopies teen die Hub
Anro Nel kry 135 nie uit nie
Volkies teen Diamantveld
Diamantveld kry 107-6 en Volkies gaan die telling in 12.4 beurte verby.
Volkies wen met 5 paaltjies
Eerste span:
Volkies teen St Andrews
Volkies kry 141 vir 9
St Andrews kry 79
Diaan van der Merwe vat 4 paaltjies
Volkies wen met 62 lopies
Volkies teen Noordkaap
Noordkaap kry 62
Kobus Pienaar en Diaan van der Merwe vat elkeen 3 paaltjies
Volkies wen met 9 paaltjies
Volkies teen Grey Kollege (Finaal)
Volkies kry 140 vir 9
Grey word vir 90 uitgeboul
Berno de Klerk vat 3 paaltjies
Volkies wen met 50 lopies