Die Luiperds se naels is Saterdag, 11 November op Olënpark getrek.
Dit nadat hulle met 56 – 20 teen die Pumas tydens die Airlinkbeker les opgesê het.
Die telling weerspieël dalk nie hoe taai die Luipies dit veral in die eerste helfte vir hulle teenstanders
gemaak het nie. Die Noordwesters het in die eerste veertig minute reeds drie drieë
gedruk.
Foto’s: Wouter Pienaar
Hulle was maar 28 -20 agter toe die spanne gaan water drink het.
Die tweede helfte het die Pumas hulle naels en tande gewys om beheer oor die wedstryd te neem. Benewens die telling teen die Luipies is dit goeie voorbereiding vir die seisoen wat kom.
Eric Herbert, hoofafrigter van die Luiperds, is vol vertroue dat hulle
spanne soos die Pumas kan wen.
“Ons sal die spanne kan wen as ons beter in die vaste fasette is. Ons skrum nie goed nie en verloor belangrike balle in die lynstaan,” het Herbert gesê.
“Ons het ‘n goeie fight gehad, daar was ‘n paar jong manne wat hand
opgesteek het. Die Pumas is ‘n goed geoliede span,” het HP Swart, kaptein
van die Luiperds, na afloop van die wedstryd gesê.
Dit was amper ‘n tuiswedstryd vir die Pumas met die aantal oud NWU spelers
wat vir die Laevelders uitgedraf het. Manne soos Sampie Swiegers, André
Fouché en Tino Swanepoel het almal vir die Pumas op die Hoenderhok teen die
Luiperds uitgedraf.
Die Luiperds se volgende wedstryd is op 25 November teen die Griekwas in Kimberley.


















