Die kaptein van die Luiperds het Saterdag, 4 November in sy 100ste wedstryd vir die Noordwesters uitgedraf.
“Tyd stap so vinnig verby, dit het baie onwerklik gevoel,” verduidelik HP Swart, oor die wedstryd waar hy die Luiperds op die veld teen die Griffons gelei het. Swart wat oorspronklik van Port Elizabeth
(Gqeberha) afskomstig is, het in 2010 in Potchefstroom
aangekom.

Hy het na skool eers by ‘n klub in Canberra in Australië gespeel waarna hy by die Griekwas se o.21 span aangesluit het.
Die wedstryd het dalk nie verloop soos wat die Luiperds wou gehad het nie, met die Griffons wat ‘n naelskraap 48-41 oorwinning behaal het. Tog is Swart dankbaar oor die dag en
die geleentheid.

vrou, Elizca.
“Ek is bevoorreg om nog te kan speel, en baie baie dankbaar vir my vrou wat die dag vir my spesiaal gemaak het. Ek het nooit gedink dat ek 100 wedstryde sou speel nie, maar baie bly dat ek dit in ‘n Luiperds trui kon doen,” het Swart gesê.
Deesdae is rugby nie die enigste ding waarmee Swart hom besig hou nie, hy is tans ‘n assistent opsigter by Geotech Chemicals and Civils.
Volgens Swart sal hy nog ‘n paar jaar wil aanhou om rugby te speel.
“As die lyf dit kan hou, ek geniet dit nog baie en is baie dankbaar daarvoor,” lag hy.
Volgens Eugene Fourie, hoof uitvoerende beampte van die Luiperds, is Swart die eerste Luiperd wat 100 wedstryde vir die provinsie speel.
“Die ander sewe wat die mylpaal bereik het, was nog in die tyd van die Wes-Transvaal.
Dis vir ons ‘n absolute eer om ‘n speler van HP se stoffasie steeds in ons geledere te kan hê.
Hy bring baie ervaring na die groep toe en sy leierskap is van onskatbare waarde.
“Dit gebeur min dat spelers van kleiner unies hierdie mylpaal behaal. Baie geluk aan HP Swart en ons wens hom sterkte toe vir die res van die seisoen,” het Fourie gesê.



