Local newsSport

Munisipaliteit gemaan oor rou riool in woonkomplekse

Die AfriForum-tak het die munisipaliteit tot Vrydag 15 November gegee om stappe te doen wat tot die oplossing van die probleem sal lei.

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het 11 November ’n skrywe aan die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die gevolge wat dit in die gesig staar as daar nie dringend aandag aan die erge rioollek langs Paryslaan in Balliepark gegee word nie. Die mangate in die omgewing bied al geruime tyd probleme, aangesien riool gereeld daar uitborrel en selfs in die aanliggende woonkomplekse insyfer. Die situasie is so erg dat huise selfs deur die riool oorstroom word.

AfriForum het in sy skrywe die munisipaliteit daarop gewys dat dit onwettig is om só iets te laat gebeur, aangesien dit ernstige gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in daardie gebied inhou. By verdere ondersoek het AfriForum bevind dat daar ’n kontrakteur op die toneel is om die lekkasies aan te pak, maar die werk staan stil omdat die span glo wag op direktiewe van ’n bestuurder. Die burgerregteorganisasie het ook die munisipaliteit versoek om hierdie opdragte af te vaardig sodat die herstelwerk gedoen kan word.

Die AfriForum-tak het die munisipaliteit tot Vrydag 15 November gegee om stappe te doen wat tot die oplossing van die probleem sal lei, anders sal AfriForum genoop wees om regstappe teen die munisipale bestuurder te doen.

“Hierdie haglike situasie dui weereens op die onbevoegdheid en onbereidwilligheid van die munisipaliteit om daadwerklik teen krisisse op te tree. Daar kan nie van inwoners verwag word om in rou riool te lewe nie – dit skend elk geval inwoners se regte en sal nie deur AfriForum geduld word nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek.

Navraag is by die munisipaliteit gedoen, maar ten tyde van die publikasie is geen terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button