Die Luiperds het op 21 Junie ‘n duur les teen die Valke in Kemptonpark geleer.
Die Noordwesters het hulle Curriebeker eerste afdeling kragmeting met 50 – 24 verloor. Dit nadat die Luiperds 38-7 teen hafltyd agter was.. Dit is nie alles slegte nuus vir die Luiperds nie aangesien hulle daarin kon slaag om vier drieë te druk om sodoende ‘n bonuspunt in te samel.
Volgens Riaan van Straten, waarnemende hoofafrigter van die Luiperds, was dit ‘n wedstryd van twee helftes gewees.
“Ons het hopeloos te stadig begin. Ons het nie balbesit gehad nie en in die vaste fasette gesukkel. Gelukkig in die tweede helfte kon ons dinge regruk en het ons meer ons DNA begin speel. Ek glo dit is ‘n tree in die regte rigting, aangesien ons dinge in die tweede helfte kon reg ruk. Ons weet waaraan ons moet werk in die week. Dit is onder die vergrootglas gesit teen die Valke,” het Van Straten verduidelik.
Die Luiperds kom aanstaande naweek teen die OP te staan, ‘n wedstryd wat van Straten sê die span voor opgewonde is.
“Teen OP is ons weer voor tuisskare so ons sien uit daarna,” het gesê.
Die Luiperds se wedstryd teen OP skop om 15:00 op Olenpark af.



