Tot in Februarie vanjaar het Ian Brits, ’n graad 7-leerder van Laerskool Mooirivier, nog nooit ‘n rugbywedstryd gespeel nie. Sy enigste ervaring met die sport was informele touch rugby tydens pouses.
Maar toe breek die dag aan van die skool se o/13-proewe en Ian verras almal.
“Hy wou glad nie gaan nie,” vertel sy ma, Natasha Brits.
“Maar sy vriende het hom daardie oggend oortuig. Hy’t gedink hy sou dalk derde span maak. Ons almal het.”
Teen 1.82 meter lank op net 12 jaar oud, staan Ian ’n kop of twee bo sy maats uit, en hy baklei vreesloos vir die bal, sonder ’n bang haar op sy kop.
Kort daarna ontvang hy sy eerste-span trui. Sy afrigter beskryf hom as “’n monster op die veld” oor sy intensiteit, toewyding en ‘n natuurlike teenwoordigheid.
Die ongelooflike opgang het voortgegaan toe Ian verkies word vir die Potchefstroom dorp-span, en later as die enigste speler van Potchefstroom wat vir die Luiperds se o/13 Craven Week-span gekies word.
Na skaars vyf maande op ’n rugbyveld, is Ian nou ‘n provinsiale speler.
By vanjaar se Craven Week, het Ian slot gespeel.
Die Luiperds het hul week afgeskop met ’n nederlaag teen Vrystaat, maar het sterk teruggekom met oorwinnings teen die Blou Bulle (7–5) en Griquas (10–0) op die laaste dag van die toernooi het die Luiperds die Limpopo Bulle met 21–5 geklop.
“Ek verstaan nie hierdie gawe wat ek gekry het nie,” sê Ian eerlik, “maar ek sal altyd my beste gee.”
Die Luiperds het vanjaar algeheel 5de in die toernooi geëindig, ‘n groot verbetering van verlede jaar se 13de plek.



