SportSport

Proteas netbalster sluit aan by Volkies as netbaldirekteur

Elmeré van der Berg se aanstelling as netbaldirekteur by Volkies is 'n groot veer in dié skool se hoed.

Die huidige Proteas-doel en voormalige NWU-netbalster, Elmeré van der Berg, gaan vanjaar haar uitgebreide talente as netbalstrateeg en leier by Volkies wys.

Van der Berg is verlede maand amptelik as Hoër Volkskool Potchefstroom se nuwe netbaldirekteur aangestel. Hierdie is ’n groot aanwins vir Volkies, wat tradisioneel as ’n baie sterk netbalskool bekendstaan en reeds Proteas soos Ine-Marí Venter, Elsunet du Plessis sowel as Amanda Mynhardt opgelewer het.

Van der Berg het verlede jaar vir die pos aansoek gedoen omdat sy die geleentheid sien om Volkies se netbal na ’n hoër vlak te neem en sodoende met die sterkste skole in die land te kan meeding.

Elmeré van der Berg neem tans deel in die Suncorp Super Netball-liga vir die Adelaide Thunderbirds. Foto: Verskaf.

“My langtermyn-doelwit is om elke span van die skool by SA’s te wil kry en om ten minste onder die top ses in die land te wees,” vertel Van der Berg.

Sy noem dat sy opgewonde is oor die toekoms van skolenetbal en dat doeltreffende sisteme ’n groot rol speel om spelers op die regte pad te kry en hul drome te help verwesenlik.

“Ek wil weer Volkies een van die beste netbalskole maak. Dit gaan harde werk en toewyding van die spelers verg, maar ook van die skool en die afrigters. Ek dink ons is ’n lekker afrigtingspan wat dieselfde passie deel om te wen, en ek glo ons is almal op dieselfde bladsy om Volkies weer as een van die top netbalskole te vestig,” voeg sy by.

Aangesien Van der Berg steeds ’n aktiewe speler is, is hierdie posisie heelwat uniek – iets waarvoor sy baie dankbaar is, aangesien sy nou ook ’n bydrae van die baan af kan lewer.

“Dit is vir my lekker om iets betekenisvols te doen terwyl ek my droom as netbalspeler uitleef. Ek is baie dankbaar dat Volkies my ondersteun en my steeds die geleentheid gee om netbal te speel terwyl ek vir hulle werk.”

Van der Berg, wat haar Proteas-debuut op 20-jarige ouderdom in 2021 gemaak het, is een van Suid-Afrika se voorste netbalspelers en speel tans vir die Adelaide Thunderbirds in Australië. Sy het gedurende 2024 en 2025 ook vir die Manchester Thunder in Engeland gespeel en twee indrukwekkende seisoene daar beleef. In haar eerste seisoen het sy 570 doele aangeteken en in haar tweede seisoen 567, die hoogste in dié liga.

Sy het ook aan die Statebondspele in 2022 en die Netbalwêreldbeker in 2023 deelgeneem. Sy het haar 50ste wedstryd vir die Proteas in Desember gespeel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button