Suid-Afrika se beroepstoei-legende, Jan Wilkens (83), het Sondag, 19 April, sy laaste asem uitgeblaas.
In sy fleur was Wilkens een van Suid-Afrika se grootste sportsensasies vanaf die 1960’s tot 1980’s, waar hy talle swaargewigtitels in rofstoei verower het.
Hy het ook teen verskeie internasionale sterre op plaaslike en internasionale vlak meegeding. Dit sluit in Blackjack Mulligan (oupa van die bekende oud-WWE-ster, Bray Wyatt), sowel as Giant Haystacks en Big John Studd. Ander groot teenstanders teen wie Wilkens kragte gemeet het, was Seiji Sakaguchi en Big John Strongbow.

Wilkens het sy eerste swaargewigtitel verower toe hy Percy Hall geklop het.
“Altesaam het ek in 42 wêreldtitelgevegte geveg. Ek het 32 gewen en 10 verloor en was drie keer swaargewigkampioen van 1975 tot 1987,” het Wilkens in 2015 in ’n onderhoud met Potchefstroom Herald gesê.
Lees die volle onderhoud met Jan Wilkens in 2015 hier:
Wilkens het meer as 3 000 gevegte as beroepstoeier aangepak en gehore groot vreugde verskaf met sy vegtersmentaliteit, Boston-krap en kragtige voorarmhoue.
As Jan Wilkens genoeg gehad het vir sy opponent, was daar geen genade meer nie. ’n Rugbreker sou dikwels sy opponent se einde beteken, met die skeidsregter wat menigmaal Wilkens se arm sou lig. Hy het oraloor geveg met die promotor, Bull Hefer, wat groot werk gedoen het rofstoei se bekendheid te verhoog.
Kyk die video van sy geveg teen Giant Haystacks hier: (Video: Ananzi Kobus Erasmus/YouTube)
Wilkens sal onthou word vir sy ferm handdruk, rustige persoonlikheid en vriendelikheid – ’n mens op wie jy kon staatmaak, binne en buite die rofstoeikryt.
Na sy aftrede in 1987 het Wilkens op sy plaas buite Potchefstroom in die Klipdrift-omgewing geboer.
Wilkens laat sy vrou, Franci, en drie kinders agter.
Die Herald kon nog nie vasstel wat die oorsaak van Wilkens se afsterwe is nie. Sy familie het ook nog nie terugvoer gegee nie.



