Potch Dorp se vrouerugbyspan het die afgelope Saterdag hulle tande gewys met ‘n oortuigende 52-10-oorwinning teen Ikageng Rugbyklub in die halfeindstryd van die Carien Broodryk-vroueliga.
Sodoende het hulle nou ‘n plek in die eindstryd teen Welkom hierdie komende naweek (Saterdag, 23 Mei) verseker. Potch Dorp is die verdedigende kampioene. Hulle het in 2025 ook teen Welkom in die eindstryd gespeel en met 21-10 gewen.
Hierdie afgelope Saterdag was daar geen genade vir Ikageng nie. Die buitesenter, Michelle Booysen, het vier drieë met fantastiese individuele pogings ingepalm. Kat Pomane, Verana van Heerden en Lara de Wet (2) het ook vir Potch Dorp gaan druk.
Die ervare heelagter, Van Heerden, het ook drie doelskoppe oorgesit, met Kiara Sada (2) en Kayla Abbott wat ook elk ‘n doelskoppe in die tweede helfte oorgeklits het.
Van Heerden is saam met Louise Venter en Lizzy Diseko die drie spelers wat al sedert die stigting van vrouerugby in 2017 by Potch Dorp betrokke is.



