Potchefstroom Gimnasium se o14A-, o15A- en eerste rugbyspanne gaan hierdie komende Saterdag, 8 Augustus, met selfvertroue hul Noordvaal Virsekerbeker-halfeindstryde in.
Nie net is hierdie naweek belangrik vir Gimmies se bekerkanse nie, maar daar is ook ‘n groter doelwit op die spel – promosie na die Skild-afdeling. Die span met die hoogste puntetotaal uit die Bowl-Wes- of Bowl-Oos-afdelings sal na die Skild-afdeling promoveer.
Gimmies kan dan moontlik teen skole soos Piet Retief, Pietersburg en Ben Vorster meeding.
Gimmies is algeheel eerste op die gesamentlike punteleer van die Bowl-Wes-afdeling met 227,5 punte – 17,5 punte voor Midstream College in die tweede plek. In die Bowl-Oos-afdeling is Hoërskool Ermelo eerste met 217 punte.
Gimmies kan sodoende hul plek in volgende jaar se Skild-afdeling verseker indien al drie spanne hul halfeindstryde en eindstryde wen. Dit sal natuurlik ook in hul guns tel indien Ermelo en Midstream nederlae ly. Die som is eenvoudig: Wen jou eie wedstryde en verseker ‘n plek in die volgende afdeling.
Gimmies was in 2024 algeheel 8ste, in 2025 was hul algeheel derde en nou in 2026 is hul die voorlopers.
Gimmies se bepalings vir Saterdag, 8 Augustus, is soos volg:
- o14A: teen Midstream College om 09:00 by Hoërskool Centurion
- o15A: teen Hoërskool Ermelo om 10:10 by Midstream College
- o19A (eerste span): teen Midstream College om 12:40 by Midstream College





