SportSport

Potch-paartjie gaan Suid-Afrika oorsee by Deadly Dozen-wêreldkampioenskappe verteenwoordig

Willem en Danél Erasmus gaan aan die uitdagende Deadly Dozen-wêreldkampioenskappe in Londen vanaf 5-6 September deelneem.

In Engels is daar ’n bekende gesegde wanneer daar na uitnemende paartjies verwys word as ’n “Power Couple”.

Daar is dalk nie ’n meer gepaste manier om Willem en Danél Erasmus te beskryf nie, wat aan die Deadly Dozen-wêreldkampioenskappe in Crystal Palace, Londen, vanaf 5–6 September vanjaar gaan deelneem.

Willem moedig vir Danél aan.

Die Deadly Dozen is ’n fiksheidskompetisie wat strawwe 400 m-hardloopsessies en verskeie oefeninge (Labours) bymekaar bring om deelnemers se liggame fisies en geestelik van kop tot toon te toets. Die Deadly Dozen word in meer as 30 lande wêreldwyd aangebied.

Willem (42) sal aan die Mans enkel en gemengde dubbels deelneem, terwyl Danél aan die vroue enkel en gemengde dubbels sal meeding.

Deadly Dozen is ’n unieke hibriede fiksheidswedloop wat 12 × 400 m-hardlope met 12 funksionele oefenstasies kombineer. Deelnemers hardloop dus altesaam 4,8 km, terwyl hulle ook deur ’n reeks uitdagende krag-, uithouvermoë- en liggaamsgewigoefeninge moet werk.

“Die kombinasie van hardloop en funksionele oefeninge maak die wedloop besonders veeleisend,” noem Willem.

Om te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe moes die paartjie aan ’n wêreldwye Top-12-roete deelneem, waarna verdere plekke deur middel van ’n landrotasiestelsel toegeken word om internasionale verteenwoordiging te verseker.

Danel, ’n oud-Potch Gimmie, se prestasie is nog meer besonders aangesien sy eers in 2025 aan mededingende sport begin deelneem het. Hierdie ma van twee in haar dertigs is ook die eienaar van ’n klein onderneming.

Sy het binne ’n kort tydperk ontwikkel tot ’n gerekende atleet wat op wêreldvlak gaan meeding. Vir haar is hierdie ’n groot hoogtepunt in haar reis wat sy saam met haar man deel.

Willem, ook ’n oud-Potch Gimmie, het al voorheen aan Obstacle Course Racing deelgeneem en prestasies in die Warrior Race behaal.

Vir Willem gaan die wêreldkampioenskap hoofsaaklik oor prestasie en om homself teen die beste atlete ter wêreld in sy ouderdomsgroep te meet. ’n Podiumplek in sy ouderdomskategorie is die persoonlike doelwit.

“My voorbereiding vir Londen het sterk gefokus op beide hardloopspoed en funksionele krag, aangesien Deadly Dozen vereis dat ’n atleet vinnig moet kan hardloop, onmiddellik daarna kragwerk moet verrig en vervolgens weer die hardlooptempo moet optel.”

Vir die Erasmus-egpaar is die doel in Londen om hul beste moontlike prestasie te lewer, Suid-Afrika met trots te verteenwoordig en hulself teen die beste atlete in die wêreld te meet.

“Ons wil Londen toe gaan, alles gee wat ons het, Suid-Afrika trots maak en terselfdertyd die ervaring van ’n leeftyd geniet.”

Wat behels Deadly Dozen?

12 × 400 m-hardlope en 12 oefenstasies, bekend as die Labours.

  • Die Labours word in die middel van die atletiekbaan opgestel en van 1 tot 12 genommer.
  • Atlete begin met een rondte van die baan, waarna hulle Labour 1 voltooi voordat hulle weer baan toe gaan. Hierdie patroon word deur die hele wedloop herhaal.
  • Na die 12de rondte voltooi deelnemers 20 Devil Presses (burpee met ‘n dumbbell gevolg met ‘n double dumbbell snatch) voordat hulle die eindstreep oorsteek.
  • Elke stasie gebruik eenvoudige toerusting soos kettlebells, handgewigte en gewigsplate.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button