Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan het goeie tyd in die middel spandeer die afgelope Saterdag (29 Augustus) toe hulle ’n reuse 349/8 aangeteken het in ’n 241-lopie-oorwinning teen Matlosana Hub op die Gimmies Oval.
Gimmies se kolwers was bestendig, met Wico Cato (62), Lukas Kotze (55) en Bennet Keet (59) wat goeie lopies bygedra het. Dit was ook Keet se tweede vyftigtal in ’n ry.
Matlosana is vir 108 almal uitgeboul. Jahndré Coetzee (3/10 in vier beurte) en Eizer Behens (3/14 in vyf beurte) het hier uitgeblink.




Gimmies se o15A-krieketspan het maalvleis van Matlosana Hub se o15-span gemaak met ’n 312-lopie-oorwinning. Gimmies het ’n massiewe 362 almal uit in 46 boulbeurte aangeteken.
Jeandré Boshoff het ’n goeie 84 lopies geslaan. Die Potchefstromers het daarna amok gemaak en Matlosana vir slegs 50 uitgeboul. Rikus le Roux het 4/6 geneem, terwyl Juvan Botes 4/14 behaal het.


Gimmies se tweede krieketspan, ook bekend as die Dukes, het ’n goeie driepaaltjie-oorwinning teen Rustenburg behaal.
Gimmies moes 231 lopies jaag vir die oorwinning, wat hulle in 37 boulbeurte behaal het.
Viljoen Germishuys het ’n onoorwonne 67 geslaan, met Wico se boetie, Heinru, wat 34 lopies bygedra het.



