Dit is nou amptelik ’n driekuns vir Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan, wat gisteraand (14 Oktober) in die Rain Schools SA20-derbywedstryd vir die derde keer vanjaar die oorhand oor Potchefstroom Gimnasium gekry het.
Volkies se Sihle Duma het ’n haakhou na die grens gestuur om vir Volkies ’n oorwinning met vyf paaltjies te besorg. Kort daarna was sy spanmaats en die hele skool op die Noordwes-krieketovaal om die oorwinning onder spreiligte te vier.
Dit was ’n dag om te onthou vir Volkskool, wat ook die o.15-wedstryd met agt lopies gewen het, terwyl Volkies se onderwysers ook ’n oorwinning met 80 lopies teen hul eweknieë van Gimmies behaal het.


In die eerstespanstryd moes Volkies 151 lopies vir die sege jaag in hierdie geskiedkundige kragmeting, wat vir die eerste keer in dié interskolereeks beslis is. Trots en tradisie was op die spel vir albei skole, wat nie kon wag om die wedstryd ná ’n kort reënbui te begin nie.
Van der Merwe maak die verskil
Gimmies het eerste gekolf en 150/7 aangeteken. Lukas Kotze het ’n goeie 51 van 37 balle geslaan en sy krag gewys. Jahndré Coetzee het hom ook goed ondersteun met 37 van 33 balle. Volkies se kaptein, Andries Venter, was skitterend met sy variasie in draaiballe en het 4/31 geneem.
Volkies se AW van der Merwe (65 van 49 balle) was uitstekend met ’n aggressiewe beurt net toe Volkies dit nodig gehad het. Toe Van der Merwe gaan kolf het, was Volkies op 34/3 en het die span stabiliteit benodig. Gimmies se naatbouler, Adriaan van Niekerk, het 3/26 geneem.
Van der Merwe het egter kort nadat hy gaan kolf het, ook geluk aan sy kant gehad toe Ulrich Botha ’n moeilike vangskoot laat val het toe hy op vier lopies was. Saam met Juan van Niekerk (31 van 29 balle) kon hy ’n vennootskap van 92 lopies aanmekaar sit wat die wedstryd in Volkies se guns geswaai het.
Al het albei hul paaltjies teen die einde verloor, het Schalk Pienaar (15 van 11 balle) en Duma (5 van 2 balle) Volkies oor die wenstreep gedra.
Venter en Van der Merwe het na die wedstryd albei genoem dat die ondersteuners op die pawiljoene daardie ekstra energie gegee het om die oorwinning in die sak te steek.
Volkies se o.15’s dra ook die kroon
Vroeër die dag het Volkies se o.15A-krieketspan ook ’n goeie oorwinning met agt lopies behaal. Moses Kgokong het 61* van 51 balle gemoker en saam met Jean Liebenberg (52 van 51 balle) vir Volkies na 130/3 geneem.



