Local newsSport

Fietsryer praat oor stigma rondom fietsryers op die pad

“Mense moet weet die fietsryers probeer nie oorneem en gevaarlik wees op die pad nie, inteendeel, ons wil ons beste doen om so veilig as moontlik te ry, mekaar te beskerm en nie onverskillig te ry nie,” sê Dean Rosin, 'n fietsryer in Potchefstroom.

“Ek wil ‘n boodskap stuur oor die persepsie wat mense het oor fietsryers op die pad.” So sê Dean Rosin, ‘n fietsryer wat onlangs in ‘n ernstige fietsongeluk was. Die ongeluk was egter net een van baie. Die Herald berig gereeld oor fietsryers wat deur motoriste en trokdrywers raakgery word, en dit is hierdie probleem wat Dean wil aanspreek. “Mense dink fietsryers doen net wat hulle wil en ry net waar hulle wil,” sê Dean. “Die hele ding is: ons staan baie vroeg op, tussen 4:00 en 5:00 in die oggend. Ons maak seker ons het voor- en agterligte wat werk sodat ons sigbaar is. Ons gebruik ‘n GPS wat aandui wanneer karre van agter af kom en wanneer daar geen karre agter jou is nie. Dit begin ‘biep’ wanneer ‘n kar aankom. Dit dui selfs aan wanneer ‘n kar teen ‘n redelike spoed aankom (oranje) en wanneer ‘n kar baie vining aankom (rooi). Ons doen alles in ons vermoë om so veilig as moontlik te wees,” verduidelik Dean. “Ons probeer om agter mekaar te ry en kyk na mekaar. Ons probeer om slaggate en klippe te vermy. Wanneer mens teen ‘n vinnige spoed ry en ‘n klippie tref, gebeur dit maklik dat jy ‘n ander fietsryer benadeel deur hul wiel te tref. “Mense moet weet die fietsryers probeer nie oorneem en gevaarlik wees op die pad nie, inteendeel, ons wil ons beste doen om so veilig as moontlik te ry, mekaar te beskerm en nie onverskillig te ry nie,” sê Dean. Goed wat fietsryers se taak bemoeilik is karre wat ‘n ander kar in die aankomende rigting verbysteek en te naby aan fietsryers verbygaan. “Dis nogal vreesaanjaend,” sê Dean. “Ons het baie goed op die pad waarna ons kyk wanneer ons ry.” Dean verwys na die ongeluk waarin hy Maandag, 1 April betrokke was. “Dit was ‘n heel rustige dag gewees. Ons span van vyf lede het om die minuut beurte gemaak om voor te ry. Na jy vir ‘n minuut voor gery het, val jy van regs af weer agter in die ry. Daar is nogal slaggate op hierdie pad, so ons was op die uitkyk vir slaggate en vir mekaar.” Dean merk op dat Maandag ‘n dag vir feesvieringe was aangesien dit Paasnaweek was. “Ek het prysliedere gesing terwyl ek gery het.” Op pad terug, sowat drie kilometer buite Potchefstroom, is die feesvieringe kortgeknip toe die ongeluk gebeur het. “Daar was ‘n glybaan na links, en op hierdie punt beweeg ons altyd na die linkerkant toe sodat dit veiliger is. Ongelukkig het William (William Schoeman was ook in die fietsongeluk betrokke), die derde fietsryer, afgekyk en nie gesien dat die ander fietsryers links beweeg het nie. Sy wiel het die persoon voor hom geraak en begin wikkel (wiggle). Ons het sowat 45 kpu. gery hier. Ek dink hy het geskrik en sy fiets regs gepluk. Toe tref hy my en ons het binne ‘n sekonde of twee die grond getref. “Dit was niemand se skuld nie,” voeg Dean by. “So iets kan met enigeen gebeur. Dit is een van die redes hoekom ons so versigtig is.” Dean onderstreep dat fietsryers nie probeer om onveilig en onverskillig op te tree terwyl hul fietsry nie, maar dat hul altyd hul beste gee om versigtig en proaktief op te tree. “Ons wil so veilig wees as wat ons kan, en dit is jammer wanneer hierdie ongelukke gebeur.” Motoriste word gevra om op die uitkyk te wees vir fietsryers, veral omdat Potchefstroom so ‘n groot fietsrygemeenskap het. Wees proaktiewe, veilige bestuurders wanneer jy jou voertuig beman.

Related Articles

Back to top button