Aardjie na sy Veerpylvaartjie
Daar is tot ‘n unieke ererol onder die Rusch-gesin se lapa waar veerpyle gespeel word. Op ‘n baksteenmuur langs die veerpylbord is daar talle name met kryt op bakstene gegraveer vir elkeen wat al ‘n 180 telling (die hoogste telling met drie veerpyle), behaal het. “Kyk hier is Markus se eerste 180!,” wys sy pa …
Daar is tot ‘n unieke ererol onder die Rusch-gesin se lapa waar veerpyle gespeel word.
Op ‘n baksteenmuur langs die veerpylbord is daar talle name met kryt op bakstene gegraveer vir elkeen wat al ‘n 180 telling (die hoogste telling met drie veerpyle), behaal het.
“Kyk hier is Markus se eerste 180!,” wys sy pa Leon trots op een van die bakstene met Markus en Leon se medaljes wat in die agtergrond ‘n verdere aanduiding van hul geliefde familiesport gee.

Die Rusch’e het ‘n groot passie vir veerpyle met beide pa Leon, ma Alet en hul seun Markus wat aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vanaf 5-10 Julie in Kibler Park, Johannesburg deelgeneem het. Markus (15) is dalk nie met ‘n silwer lepel in die mond gebore nie, maar eerder met ‘n veerpyl in die hand, nadat hy reeds vanaf 7-jarige ouderdom om die braaivleisvure begin veerpyle gooi het.
Die leerder van Hoërskool Volkskool is tans die SA kampioen in die junior enkelspel en het ‘n ongelooflike vyf 180 tellings behaal. Markus en Zander Stolz van Rustenburg het ook in die junior dubbelspel geseëvier. Sy pa het ook in spanverband presteer en saam met die Matlosana Mans Inter-assosiasiespan seksie vier tydens die SA’s gewen – die eerste keer sedert 1992.
In die SA kampioenskappe is daar verskillende seksies wat teen mekaar deelneem in ‘n rondomtalie formaat. Die spanne met die hoogste telling speel dan teen mekaar uit om die wenner te bepaal. Matlosana het hulle eerste wedstryd verloor maar toe in hulle volgende nege wedstryde skoonskip gemaak om met 27 wedstrydpunte die titel na die Noordwes te bring.
Saldanhabaai het ook 27 punte gehad maar het met ‘n laer telling tweede gekom. “Dit was ‘n wonderlike gevoel dat ons as gesin almal aan dieselfde toernooi kon deelneem. Ons het in aparte sale gegooi en ek onthou goed hoe almal gejuig het toe Markus so ‘n goeie rondte gehad het en as wenner gekroon is,” onthou Leon.
“Ek is bly ek kon al die dubbels raakgooi, want hulle is die moeilikste. Dit is een ding om die bul raak te gooi maar dubbels maak jou ‘n beter speler,” noem Markus wat met sy spel meeste van die praatwerk doen.
Die Rusch-gesin het ‘n ryke geskiedenis van veerpyspelers met Leon se pa en oupa wat albei op ‘n gereelde basis gespeel het en klubs verteenwoordig het. “Ek onthou ons het altyd Vrydae en Saterdaeaande veerpyle gespeel.
Die tradisie gaan nou nog voort wanneer ons vriende oornooi en braai. Dan weet almal wanneer die kole warm word dan gooi ons eers ‘n paar pyle.” In die begin het Markus eers op ‘n stoel gestaan en hy het naderhand al die manne om hom begin wen.
Ek is bly hy geniet die sport so baie,” vertel Leon trots. Volgende jaar beoog Markus om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem en sal kwalifiseer indien hy weer op die SA’s so ‘n goeie vertoning insit.
“Dit is uiters professioneel aangebied en die Suid-Afrikaanse Liggaam doen die afgelope paar jaar sy bes om die sport meer toeganklik te maak. Dit raak elke jaar groter,” noem Leon.



