Post verkiesing polities-ekonomiese situasie
Die laaste openbare lesing van die Potchefstroom tak van die Universiteit van die Derde Era (University of the Third Age) (U3A Potch) vir 2024 word op Vrydag 15 November aangebied.
Die laaste openbare lesing van die Potchefstroom tak van die Universiteit van die Derde Era (University of the Third Age) (U3A Potch) vir 2024 word op Vrydag 15 November aangebied. Na die euforie van die Algemene Verkiesing en die daaropvolgende Regering van Nasionale Eenheid is ons nou op ‘n punt waar ons krities na ons situasie kan kyk. Prof André Duvenhage is ‘n bekende analis en kommentator oor politieke aangeleenthede, en het ingewillig om met ons te gesels oor die belangrikste kragte in die huidige politieke omgewing. Hy sal aantoon wat die betekenis daarvan vir die funksionering en sukses van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) is.
Die RNE is ‘n belangrike verskuiwing weg van die ANC se ideologie van die Nasionale Demokratiese Rewolusie. Die vraag kan tereg gevra word wat dan nou geword het van dié rewolusie-ideologie. Prof. Duvenhage se tema is dus: “Perspektiewe op die post-verkiesing polities- ekonomiese omgewing in Suid-Afrika”.
Die U3A skep ‘n omgewing vir bejaardes om teen minimale koste sosiaal en verstandelik gestimuleer te word. Die Potchefstroom-tak is einde 2022 gestig en het ongeveer vier geleenthede waar nie-lede uitgenooi word om dit gratis by te woon. Lesings word deur erkende leiers in ‘n spesifieke veld aangebied. Die U3A kies onderwerpe wat van plaaslike belang is en dek onderwerpe uit die natuur, omgewing, letterkunde, sosiale lewe en ander aspekte waarna lede graag wil luister.
Bywoning is gratis en nie-lede is baie welkom. Bring jou vriende saam, maar laat ons asseblief weet hoeveel en wie jy saambring. Die lesing word op 15 November om 10:00 in die saal van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Oos in Paryslaan gehou.
RSVP asb. vóór of op Maandag 11 November vir Ria Nel by 081 011 8121 of per e-pos by ria.nel.rn@gmail.com