Oom Chris Landsberg is enig in sy soort

Almal het vir oom Chris die Gentle Giant genoem.

Vir 43 jaar het hy onbaatsugtig die gemeenskap van Potchefstroom gedien. Wanneer hy gepraat het, het mense opgelet en geluister. Chris Landsberg, raadsheer, mentor en vriend, het op 31 Maart weens gesondheidsredes vanuit die raad getree.

Gebore in Vereeniging, was hy in Laerskool Handhawer en het sy matriek by Hoërskool Vereeniging voltooi. Daarna het Chris by die PUK en Onderwyskollege studeer waar hy sy graad verwerf het. Hy het ‘n magdom onderskeidings, grade en ondervinding agter sy naam, maar dit was nie wat eintlik saak gemaak het nie. Wat saak maak is hoe hy die mense om hom se lewens geraak het.

Chris is al 54 jaar met sy vrou, Rina, getroud en die paartjie het twee kinders en een kleinkind. Hulle is lidmate van die Hervormde Kerk, Grimbeekpark.

Ongelukkig is Chris se gesondheid nie meer wat dit was nie.

“Ek veg al ‘n hele paar jaar teen prostaatkanker en het besluit om die laaste paar jaar van my lewe te gaan geniet,” vertel Chris.

Chris het vanaf 1982 wyk 24 as raadslid verteenwoordig. Hy het ook voor sy aftrede seker gemaak hy lei die regte, verantwoordelike mense op om by hom oor te neem.

“Ons gee erkenning aan ’n man wie se lewe en diens ’n merkwaardige impak nalaat — nie net in hierdie stad Potchefstroom nie, maar in die harte van almal wat hom ken.”

“Chris was nie net bloot ’n raadslid of burgemeester nie. Hy is veel meer, ’n mentor, ’n vriend, ’n gemeenskapsleier, en bo alles, ’n ware dienskneg van sy gemeenskap. Chris het nooit net gepraat van diensbaarheid nie — hy leef dit,” vertel Chris Hatting, kiesafdelingshoof van die DA.

Heinricha Hodgson, DA-raadslid, vertel ook van haar ervaring met Chris.

“Oom Chris is ‘n persoon wie se wysheid my van die begin af beïndruk het. As Oom Chris gepraat het, het almal, insluitende die opposisie, met groot agting en respek, aandagtig, na elke woord geluister en dit ter harte geneem.”

Sy gaan voort om te sê hy is ‘n formidabele man met ‘n elle lange CV, maar het verlede jaar saam met haar water emmertjies vir die studente aangedra, toe daar ‘n plaaslike waterkrisis was. En dit, terwyl hy eintlik bitter siek en reeds naby aan 80 jaar oud is.

“Nooit het ek hom ‘n skewe woord oor iemand anders hoor sê nie. Hy het altyd mense se beste elemente raakgesien. Ons almal altyd gemotiveer om weer te probeer, meer te doen. Nooit op te hou veg nie. Oom Chris Landsberg is enig in sy soort,” sluit Heinricha af.

Glenville Fransman, ‘n gemeenskapsleier, onthou hoe almal vir Chris die Gentle Giant genoem het.

“Hy was altyd in die raadsvergaderings baie rustig. Hy het so baie gesag gehad, dat wanneer hy gepraat het, tot die opposisiepartye stil geraak en geluister het. Dit kan baie vir mens sê oor watter tipe persoon hy is.”

“Ek het hom nog nooit kwaad gesien nie. Wanneer hy mense oor die vingers getik het, het hy dit so ordentlik gedoen. Ek wens daar was meer leiers soos hy met ‘n sagte hart, bekwaamheid en mooi gemoed.”

Chris het met sy aftrede ‘n sertifikaat van waardering vir getrouheid in diens van Suid-Afrika in die algemeen en spesifiek die munisipaliteit van JB Marks ontvang.

Chris aanvaar sy sertifikaat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button