Local newsUpdate

Randfontein rou oor geliefde slaggate-held, Oom Piet

Die verlies van Oom Piet, die onvermoeide slaggatbestryder wat eergister oorlede is, het die gemeenskap in rou gedompel.

Die gemeenskap van Randfontein is in rou ná die afsterwe van Piet Lottering, beter bekend as Oom Piet – ’n man wat met harde werk, toewyding en ’n groot hart ’n verskil gemaak het deur slaggate regoor die Wes-Rand te vul. Sy heengaan laat ’n diep leemte.

Oom Piet het sedert 29 Augustus behandeling in ’n Johannesburgse hospitaal ontvang. Sy dogter, Mary-Jane Schwartz, het destyds vertel dat hy gevoel in een been verloor het en op 31 Augustus geopereer is. Gedurende hierdie tyd het die gemeenskap bankvas agter hom gestaan en vir sy herstel gebid.

Volgens sy broer, Herman Lottering, is Oom Piet op 7 Oktober in die ouderdom van 67 aan kardiovaskulêre oorsake oorlede.

• Lees ook: Beloved pothole fixer Oom Piet recovers after surgery

Oom Piet maak ‘n gevaarlike slaggat toe.

GPF-voorsitter Ruan Sheppard het met ’n swaar hart die nuus gedeel en vertel dat Oom Piet altyd as die held van Randfontein onthou sal word.

“‘n Man op jou ouderdom wat dit op homself geneem het om slaggate in Randfontein reg te maak om lewens te red. Meneer Piet, waar jy jou lewe in hierdie wêreld neergelê het en na die ewigheid oorgesteek het, sal Randfontein nooit weer dieselfde wees sonder jou nie.

• Lees ook: Held van die pad: Oom Piet binnekort reg vir slaggate ná tref-en-trap

“Ons as gemeenskap bid vir jou familie, geliefdes en vriende. Meneer Piet, jy het baie slaggate in en om Randfontein gevul, maar vanaand maak jou vertrek ’n ander gat oop – een van verlange en hartseer in die harte van jou geliefdes,” het hy gesê.

Braam Koertzen en Jessie Boston oorhandig fondse aan Oom Piet.

Ruan het onthou dat die laaste keer wat hy Oom Piet gesien het, die dag was toe hy in Aureus van sy selfoon beroof is. Die verdagte is kort daarna in hegtenis geneem.

“Meneer Piet moes gehelp word om op te staan – mens kon sien dit was nie maklik nie. Dit het my laat besef, ons sien nie altyd wat mense opoffer om te doen wat hulle doen nie. Meneer Piet het nie net in sy voertuig geklim en slaggate gaan regmaak nie; hy het dit gedoen met passie, toewyding en liefde vir Randfontein. Hy het deur pyn en moeite gewerk omdat hy omgegee het,” het Ruan vertel.

• Lees ook: Oom Piet en span al weer ‘op ‘n rol’

Hy het sy diepste dank aan Oom Piet betuig en bygevoeg dat net Oom Piet self sou weet wat dit gekos het om te doen wat hy altyd gedoen het.

“Mag jy rus in die hemel, Meneer Piet – daar waar die paaie geen slaggate het nie.”

Laerskool Rapportryer se skoolhoof André Kruger saam Oom Piet.

Die hartseer het ook Laerskool Rapportryer diep geraak. Skoolwoordvoerder Celeste Wentzel het namens die skool ’n innige huldeblyk gedeel.

“In elke gemeenskap is daar mense wat stil-stil ’n verskil maak – nie vir roem of erkenning nie, maar omdat dit die regte ding is om te doen. Vir ons was daardie persoon Oom Piet,” het sy gesê.

Sy het vertel dat, danksy Oom Piet se harde werk, die pad by die skool beter begaanbaar was en inwoners veiliger gevoel het.

• Lees ook: BRIEF: Dankie Oom Piet!

Oom Piet herstel ‘n brug.

“Hoewel hy homself nooit as ’n held sou beskou het nie, is dit juis sy nederigheid, harde werk en toewyding wat hom een gemaak het. Daar is nou ’n merkbare leemte in ons Rappies-gemeenskap.

“Oom Piet sal altyd onthou word as meer as net ’n gewone man. Hy bly vir altyd ’n legende. Sy naam en dade sal voortleef in ons herinneringe – soos die spore op die paaie wat hy help verbeter het,” het Celeste gesê.

Wyksraadslid Craig Harrison het sy medelye betuig en gesê Oom Piet se nalatenskap sal altyd voortleef in die lewens wat hy aangeraak het.

“Randfontein is ryker omdat ons hom geken het, en armer deur sy verlies. Dankie, Oom Piet. Jy sal nooit vergeet word nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Dominique Duvenhage

Dominique Duvenhage joined the Randfontein Herald team in 2023. From a young age, she developed a great fascination with words and language. At the age of 12, she started writing novels and thereafter eventually began to write poems. Being a journalist is not a job for her, it is a career. As your community journalist, she has taken a pledge to write truthfully and reliably.

Related Articles

Back to top button