Local sportSport

Dewald kwalifiseer vir 2014 Paralympiese kampioenskappe

Na maande se harde werk, kwalifiseer Dewald Pretorius vir die 2014 Suid-Afrikaanse Paralympiese Kampioenskappe.

Dewald Pretorius het van kindsbeen af ‘n groot liefde vir sport gehad en het veral op die atletiekbaan uitgeblink, maar na ‘n reuse motorongeluk in 2007 was Dewald se kanse op ‘n roemryke sporloopbaan verby.

Tog het dit nie vir Dewald gestuit nie.

Dewald vertel dat hy na afloop van die motorongeluk vir 18 dae in ‘n koma was.

“Ek het byna my lewe verloor, maar die Here het my ‘n tweede kans gegee en nou gaan ek volheid leef,” vertel Dewald.

Na afloop van die motorongeluk, was Dewald vir ‘n geruime tyd rolstoelgebonde. Hy het aan geheueverlies gelei en selfs sy spraak is weens die ongeluk aangetas, maar vir die wonderatleet van Randfontein was dit net nog een van vele struikelblokke tot ‘n suksesvolle toekoms.

“Ek het nooit ophou baklei nie. Ek het geglo daar is hoop vir die toekoms.”

Dewaldt het sowat sewe maande na die ongeluk weer beheer oor sy bene herwin en sy rolstoel vir ‘n stel tekkies geruil.

“Ek oefen nou weer sowat ‘n jaar lank volstoom by Hein Maré en het onglangs vir die Suid-Afrikaanse Paralympiese Kampioenskappe gekwalifiseer,” vertel Dewald.

Hy vertel dat hy al reeds al die uitdun rondtes suksesvol voltooi het en volstoom besig is om sy tye op die 100m te verbeter.

“Ek het baie hard geoefen om seker te maak dat ek vir die Suid-Afrikaanse Paralympiese Kampioenskappe kwalifiseer.”

“Ek het geweet ek kan dit doen en het myself tydens elke oefening gedruk om my tye te verbeter,” vertel Dewald.

Hy vertel verder dat hy in die T38 afdeling sal deelneem. Dié afdeling is vir atlete met ‘n balaansprobleem.

Behalwe vir die 100m naelope, neem Dewald ook aan gewigstoot deel en wys in dié sportsoort ook baie potensiaal.

Hy het vir beide gewigstoot en die 100m naelope gekwalifiseer.

Die 2014 Suid-Afrikaanse Paralympiese Kampioenskappe sal vanaf 28 Maart tot 3 April in Stellenbosch plaasvind.

“Ek kan God nie genoeg dank vir die wonderwerk wat Hy in my lewe gedoen het nie. Ek gaan my tweede kans beslis laat tel,” vertel Dewald.

Met sy voete terug op die atletiekbaan het Dewald een droom.

“Ek beplan om my tye so te verbeter dat ek vir die 2016 Papalympiese Spele kan kwalifiseer en nou dat ek aan die Suid-Afrikaanse Paralympiese Kampioenskappe gaan deelneem, is my kanse soveel beter om my droom te bereik,” vertel Dewald

Dewald bedank sy ouers, vrou, familie en elke afrigter wat hom tot dusver bygestaan het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button