Ringbalklub weer volstoom besig
Die Greenhills Ringbalklub is vanjaar weer gereed vir 'n suksesvolle jaar en nooi ringbalspelers in die gemeenskap om deel te wees van vanjaar se ringbalspan.
Die 2014 Ringbalseisoen het weer afgeskop en Greenhills Ringbalklub begin weer op 21 Januarie by WestCol College se bane te oefen.
Volgens die voorsitter van die klub, Fred Page, sal seniors sowel as juniors by die WestCol bane oefen.
“Die Juniorspelers sal vanaf 6nm tot 7.30nm oefen terwyl die seniorspelers van 7nm tot 9nm op die baan besig sal wees,” vertel Fred opgewonde.
Greenhills Ringbalklub nooi alle oud, huidige en voornemende spelers uit om by hulle te kom aansluit.
“Ringbal is ‘n wonderlike familiesport wat deur alle ouderdomsgroepe gespeel kan word, daarom doen ons ‘n beroep op alle ringbalspelers om saam met ons by die klub dié sport te kom beoefen,” vertel Fred.
Volgens Fred, hou Greenhills Ringbalklub op 8 Februarie ‘n lekker familiedag in die vorm van ‘n bring-en-braai en almal wat wil saamkuier is welkom.
“Daar gaan glybane vir die kinders wees en almal, jonk en oud, gaan lekker saam ringbal speel.
“Ringbal is ‘n fantastiese sport en as die gogga eers
byt, hou jy nooit op speel nie,” sê Fred.
Die Greenhills Ringbalklub nooi ook alle laerskool en hoërskool kinders wat sal belangstel om te speel om tydens die familiedag, om die sport te kom uittoets.
Daar sal tydens die dag koeldrank en eetgoed te koop aangebied word en volgens Fred gaan dit sommer net ‘n heerlilke pretdag wees.
“As jy hou van netbal, sal jy mal wees oor ringbal.
“Ringbal leer ook die kinders om die bal te plaas en te vang en is daarom ‘n uitstekende sport vir kinders in hul groeifase,” vertel Fred.
Greenhills Ringbalklub groei elke jaar van krag tot krag en met die bane wat die klub nou by WestCol College gekry het, laat potensiaal vir nog meer groei toe.
“Ons sien uit om jou op Dinsdag 21 Januarie te ontmoet.”
Vir verdere navrae, skakel vir Fred Page by 083 307 5531 of vir Retha Naude by 079 693 9156.



