Randfontein Werpgooi bied Suid-Transvaal Kampioenskappe aan
Werpgoiers van regoor die Suid-Transvaal streek maak hul merk tydens die Suid-Transvaal Werpgooi Kampioenskappe in Randfontein.
Randfontein Werpgooiklub het op 21 Maart die Suid-Transvaal Werpgooi Kampioenskappe aangebied en werpgooiers van regoor dié streek het aan die prestige kompetisie kom deelneem.
Sarel van der Linde, voorsitter van Randfontein Werpgooiklub vertel dat die huidige Suid-Afrikaanse kampioen, Johan Beukes, weer kop en skouers bo sy teenstanders uitgestaan het.
“Johan het die wengooi van 259m gegooi,” vertel Sarel.
In die tweede plek was Kobus de Swart gevolg deur ‘n werpgooier wat as ‘Bossie’ bekend staan.
Sarel het die algehele viede plek opgeraap.
“Die dag was ‘n reuse sukses en almal teenwoordig het dit baie geniet. Ek doen ook ‘n beroep op die gemeenskap om by dié sportsoort betrokke te raak. Wie weet, dalk is jy ons volgende Suid-Afrikaanse kampioen,” nooi Sarel.
Behalwe dat werpgooi ‘n baie mededingende sport is, kan dit ook deur oud en jonk beoefen word.
Sarel vertel dat die hele gesin by die klub kan inskakel en saam die pret kan geniet.
“Baie mense dink dat jy moet visvang om aan die sport deel te neem, maar dit is beslis nie die geval nie. Enigiemand kan deelneem aangesien die sport op land plaasvind en dit niks met hengel te doen het nie,” vertel Sarel.
Hengelaars kan wel by die sportsoort baatvind deur hul taktiek te bemeester en sodoende beter distansies op hulle aas te verseker. Maar steeds is dit nie die hoofdoel van die sport nie.
Sarel vertel ook dat skole by die sport kan betrokke raak.
Vir meer inligting rondom die klub, skakel gerus vir Sarel by 082 477 8433.



