Kan iemand Ben keer?
Plaaslike renjaer Ben Morgenrood sterk op pad na sy vyfde titel.
Met slegs vier wedrenne oor in vanjaar se Suid-Afrikaanse Sport- en GT-motorreeks is plaaslike renjaer Ben Morgenrood sterk op pad om vir ‘n vyfde keer as kampioen weg te stap.
Morgenrood vertel dat hy en sy span op Saterdag 5 Julie die draaie en vinnige pylvakke van die Oos-London Grand Prix-renbaan aangedurf het.
Hy sê dat dié renbaan die vinnigste baan op hul seisoenkalender is en dat hulle ‘n topsnelheid van sowat 300km/h op die baan bereik.
“Ek was baie opgewonde oor die wedren en het tydens ons kwalifiserende rondte ‘n tweede plek op die wegspringrooster behaal. Mede-Randfontein-renjaer Mackie Adlem was in die voorste wegspringplek,” sê Morgenrood.
Gedurende die eerste wedren van die dag het Morgenrood en Adlem se wiele ongelukkig aan mekaar geraak en Morgenrood moes hom toe weens ‘n pap band aan die wedren onttrek.
In die tweede wedren van die dag het Morgenrood teruggeveg al het hy in die agtste plek weggespring. Na 12 rondtes van top klas motorsport het Morgenrood die voortou geneem en homself van ‘n welverdiende eerste plek verseker.
“Na afloop van die Oos-Londen Grand-Prix is ek eerste op die punteleer en beplan om dié posisie te hou. Daar kan egter nog baie gebeur in die komende wedrenne en ‘n eerste plek is nog lank nie ‘n uitgemaakte saak nie,” sê Morgenrood.
Indien Morgenrood sy posisie bo-aan die punteleer behou, sal vanjaar ‘n groot hoogtepunt in sy motorsportloopbaan wees aangesien hy die nuwe rekordhouer sal word vir die meeste kampioenskapoorwinnings in dié reeks.
“Ek het gedurende die 2013-seisoen die huidige rekord vir vier Suid-Afrikaanse Sport- en GT-motorreekstitels geëwenaar en is vasbeslote om vanjaar dié rekord te laat spat,” vertel Morgenrood verder.
Hy het bygevoeg dat hy baie bevoorreg is om in die huidige seisoen teen drie ander Randfontein-renjaers deel te neem en sê dat Roelf du Plessis, Mackie Adlem en Steve Smith ook hul merk in dié reeks maak.
Dié renjaars se volgende wedren vind plaas op Saterdag 2 Augustus op die Pakisa-renbaan net buite Welkom waarna hulle dan weer op Saterdag 30 Augustus by die Zwartkops-renbaan net buite Pretoria in aksie sal wees.




