Die jaar is op ‘n einde en leerders is besig met hul finale eksamens vir 2013.
Gr. 7-leerders maak ge-reed vir die hoërskool, gr. R-leerders maak gereed om laerskool toe te gaan en gr. 12-leerders maak gereed vir die grootmenslewe.
Review het met ‘n paar gr. 7-leerders van Laerskool Piet Hugo gesels oor wat hulle die meeste van die laerskool gaan mis, waarheen hul volgende jaar gaan en waarna hulle die meeste uitsien.
“Ek gaan my vriende en die onderwysers van Piet Hugo die meeste mis,” het Lehumo Pheme, wat volgende jaar na Capricorn Hoërskool toe gaan, gesê. “Ek sien die meeste daarna uit om verder te leer,” het hy gesê.
Elodia Esterhuizen het vertel, “die onderwysers en kinders by die skool was een groot familie, ek gaan dit mis om deel te wees van hierdie familie.” Sy het verduidelik dat sy volgende jaar by Hoërskool Pietersburg aansluit en is opgewonde, maar ook bang vir die nuwe uitdagings wat vir haar en haar vriende voorlê.
“Die skool se goeie sport- en spangees is van die baie dinge wat ek sal mis. Die onderwysers en afrigters was altyd daar om ons te help,” het Damian Arle gesê. “Ek gaan PHS toe en kan nie wag om aan te beweeg en nader te wees aan die einde nie,” het hy vertel. Hy het ook vertel hy kan nie wag om nuwe vriende te maak nie.
“Ek gaan die onder-wysers, my maats en ook ons af en toe se stoutwees die meeste mis,” het Christel du Plessis vertel. Sy het gesê sy is opgewonde om nuwe mense te ontmoet, om nuwe skoolklere aan te trek en oor die nuwe begin by PHS.
Vanye Potgieter het vertel sy gaan haar vriende en die tye by die skool saam met hulle mis, maar sien steeds uit na die nuwe uitdagings, vriende en oomblikke wat sy saam met haar vriende sal beleef. Sy sal volgende jaar deel van die PHS-familie raak.
“Ek en my nefie het altyd saam pret gehad, dis iets wat ek baie gaan mis. Ek gaan ook my vriende en onder-wysers mis,” het Waldo Duvenhage gesê.
“Ek gaan volgende jaar Tom Naudé toe en kan nie wag vir ontgroening nie,” het hy opgewonde gesê.
“Ek gaan die onder-wysers die meeste mis,” het Mantoa Maila, wat volgende jaar Northern Academy toe gaan, gesê.
“Ek sien die meeste uit na die nuwe vriende wat ek gaan ontmoet,” het sy vertel.
“Ek gaan van my onderwysers mis, ek gaan dit mis om ‘n prefek te wees en die lekker aktiwiteite wat die skool aangebied het,” het Moeti Rasefate gesê. “Ek kan nie wag om meer te leer en om nuwe onderwysers en vriende te ontmoet nie,” het dié toekomstige Noorderland-leerder gesê.
“Ek gaan my rugbyspan en -afrigters die meeste mis,” het Lehlogonolo Molepo, wat volgende jaar by Ben Vorster in Tzaneen aansluit, vertel. Hy het verduidelik hoe opgewonde hy is om nuwe rugbymaats te ontmoet en deel te wees van ‘n nuwe span.






