POLOKWANE – Met die jaar wat amper verby is, kyk Curro Heuwelkruin en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé terug en onthou die hoogtepunte van die jaar terwyl hulle ook uitsien na volgende jaar se aktiwiteite.
Heuwelkruin hoof, Eben Lingefelder sê ‘n hoogtepunt was beslis toe die o/13-rugbyspan as naaswenners uit die stryd getree het tydens die Bondedag-kompetisie. “En ons laerskoolkoor is as een van die top 10 laerskoolkore landswyd aangewys,” vertel hy met trots.
Heuwelkruin leerder, Werner Katzke, is aangewys in die top 1% van leerders landswyd wat deelgeneem het aan die IED benchmark wiskundekompetisie. “Ons nuwe gebou het 10 standaard klasse en ons sien in 2014 uit na 100 nuwe leerders waarmee die skool groei. Die leerlinge in gr.4 tot gr. 10 gaan ook nou met tablette skoolgaan,” sê Lingefelder.
Tom Naudé waarnemende hoof, Cois Armer, sê daar was vele hoogtepunte vir hulle. Dit sluit hul jaarlikse kaskarresies, dr. Riekert Botha se besoek en die Marius Lengton Atletiekbyeenkoms in.
“Ons is baie trots op Reon van der Merwe wat met die redenaarskompetisie deur is na die Suid-Afrika kompetisie en op Werner Coetzee wat as nasionale wenner met 100% by die Afrikaanse Ekspo aangewys is,” sê hy.
Hy sê daar was ook verskeie tegnologiese opgraderings wat in 2013 plaasgevind het, soos ‘n nuwe afrol- en fotostaatmasjien asook ‘n nuwe telefoonstelsel.
Op die sportveld was daar ook vele uitblink-oomblikke soos die jukskeispan wat as algehele ligawenners uit die stryd getree het, en die twee o/18-provinsiale rugbywedstryde wat aangebied is.
“Ons gr. 8 tot gr. 11-slaagsyfer vir hierdie jaar is 96,3%,” vertel Armer trots. Die skool beplan weer ‘n revue vir 2014 asook die opgradering van hul werkswinkels en ander geriewe. “Daar is ‘n groot getal gr. 8 inskrywings vir 2014.”




