POLOKWANE – Reënboogland Kleuterskool het op Vrydag, 29 November, leerders se ouers en ander gaste bederf met ‘n wonderlike konsert.
Hulle het Disney as tema gekies en die konsert is by die Hoër Tegniese Skool Tom Naude aangebied.
Elke ouderdomsgroep het ‘n ander Disney-storie uitgebeeld. Daar was Smurfs, Toy Story se speelgoed en superhelde te kus en te keur. Selfs die heel kleinte babatjies was deel van die 110 kinders wat aan die konsert deelgeneem het.
“Dit was baie van die kleintjies se eerste keer op die verhoog en hulle het ons regtig verbaas,” het Mariaan Venter, hoof van Reënboogland, gesê.
‘n Totaal van 380 kaartjies vir die konsert is verkoop en die saal was volgepak met trotse ouers wat hul kinders kom ondersteun het.
“Ons was moeg, maar die konsert was baie lekker. Ons, die kinders en die gehoor het dit baie geniet,” het Mariaan gesê.



