NewsSchools

Dié juffrou is nou al ‘n instelling by PHS

Mariana Badenhorst hou al die afgelope 41 jaar by Hoërskool Pietersburg (PHS) skool.

POLOKWANE – Mariana Badenhorst hou al die afgelope 41 jaar by Hoërskool Pietersburg (PHS) skool.

Mariana is 63 jaar gelede in Polokwane gebore en het ook hier grootgeword. Sy het aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer en het na skool aan die Potchefstroomse Onderwyskollege gaan studeer.

Daarna het sy teruggekeer en by PHS begin werk. Mariana is tans adjunkhoof van PHS.

Sy is een van vier kinders en is getroud met Hannes. Saam het hulle een seun en twee dogters. Haar vroegste herhinnering aan haar onderwysloopbaan was aan ene dr. Boshof.

“Ek onthou op die eerste dag het hy baklei oor gr.12-uitslae. Dit was vir my erg en ek het my voorgeneem dat my gr.12-uitslae nooit sleg sal wees nie, want ek wil nie hê iemand moet so met my baklei nie,” vertel sy waar sy in haar kantoor sit. Sy is ook die hoof van gasvryheidstudies by dié skool.

Die lekkerste van haar werk, vertel sy, is die geleentheid wat sy het om met mense te werk. Maar vir elke lekker is daar ‘n sleg ook, en vir haar is dit sleg om vir mense te moet vertel dat hulle nie meer ‘n werk het nie.

“As ek iets anders kon wees, sou dit tien teen een ‘n maatskaplike werker gewees het, want ek het gedurig iets met arm kinders te doen.”

Oor die onderwys is sy steeds passievol. Vir haar was skoolhou voorheen nie makliker as nou nie.

“Ek dink wel dit was makliker vir die kinders. Vandag het die elektroniese media die onderwys meer toeganklik gemaak. Dit het die hele onderwysbenadering verander, ons kan nou lekker goed in ons lesse inwerk.”

Sou sy weer skoolhou as sy dit weer kon doen? “Definitief ja, ja en weer ja. Dit is lekker om skool te hou. Die interaksie met die kinders is wonderlik. Die belonings kan nie in geldwaarde gemeet word nie. Dis lekker as ‘n oud-leerling jou in die winkels voorkeer en groet.”

Volgens haar het ‘n gr. 1-onderwyser, Juffrou Marais en ‘n skoolhoof, mnr. Hiebert, destyds ‘n groot invloed op haar gehad gedurende haar kinderjare.

“Juffrou Marais was net hemel op aarde en mnr. Hiebert was ‘n sagte mens. Hulle het beide ‘n groot indruk op my gemaak.”

Mariana het as kind nooit geweet wat sy wil word nie, maar het op ‘n stadium oorweeg om aptekerswese te gaan studeer.

“Onderwys het net gebeur. Ek het dit nie regtig beplan nie, maar ek is nie een oomblik spyt daaroor nie.”

Haar vriende en kollegas sien haar as iemand wat konsekwent, perfeksionisties en dinamies is.

In haar vrye tyd bak sy graag en sy vertel met ‘n glimlag dat sy die trotste op haar kinders is.

Sy sal graag onthou wil word as iemand wat vir ander omgee.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button