POLOKWANE – Die laaste fase van die astro-hokkiebaan wat tans by Hoërskool Pietersburg (PHS) gegooi word, sal binnekort begin.
Die astro-hokkiebaan word deur Trompie, ‘n konstruksiemaatskappy van Pretoria, gebou.
Arnu de Kock, konsulterende projekbestuurder van dié projek, sê die projek beloop R3,5 miljoen en sluit die astro-hokkiebaan, ‘n pawiljoen met kleedkamers, plaveisel, pallisade en spreiligte in.
Hy sê die projek is in drie fases opgedeel en tydens die tweede fase is die teeroppervlak van die baan gegooi.
PHS se hoof, Willie Schoeman, verduidelik die skool het ná ‘n beheerliggaam-vergadering in Julie, besluit om hierdie projek van stapel te stuur. Volgens
Schoeman, sal die baan ‘n aanwins vir die skool asook vir Limpopo-hokkie wees.
“Baie navorsing is gedoen en vele kwotasies gekry en oorweeg voor die finale besluit geneem is. As deel van die navorsing is daar besoek afgelê aan ses verskillende instansies wat die afgelope paar jaar astro-hokkievelde gebou het om te verseker dat die eindproduk ‘n sukses is,” sê hy.
Die finalisering van die projek is beplan vir die einde van Februarie en daar sal in Januarie begin word met die finale fase van hierdie projek.
Hierdie fasse sal die bou van die nette en die sintetiese matte vir die baan insluit.



