POLOKWANE – Curro Heuwelkruin begin 2014 op ‘n effens ander noot as die ander skole in die stad.
Die gr. 4 tot 10-leerders se handboeke val weg en hulle gaan van nou af gebruik maak van tablette.
“Die skool het aan die einde van 2013 vir ouers die spesifikasies gegee vir die tablette wat die leerders sal benodig en die ouers het dit aangekoop. Die skool het ook spesiale kontrakte beding waar ouers afslag kon kry op hulle tablette,” vertel Eben Lingenfelder, uitvoerende hoof van Curro Heuwelkruin.
Lingenvelder verduidelik dat al die werk op ‘n stelsel by die skool gelaai is en dat die leerders dit dan in die eerste week van elke nuwe kwartaal op hulle tablette sal laai.
“‘n Voordeel van die tablet is dat die onderwyser nou ‘n multimedia-video van ‘n vulkaan wat uitbars kan inkorporeer by die geskrewe notas op die tablet vir sy les oor vulkane. Die kinders sal steeds skriftelike werk lewer en al hulle toetse en eksamens sal met die hand gedoen word,” sê hy.
Leerders kan ook tablette by die skool leen. Dié leentablette is ook beskikbaar indien ‘n leerder se tablet breek in vir herstelwerk inge-stuur word.
Laastens vertel Lingenfelder dat die stelsel later vir gr. 11 en 12-leerders geïnkorporeer sal word.
“Ons sien baie uit na die nuwe verwikkelinge.”



