Graadeentjie se ma sê van verwagting, vrees
Die nuwe skooljaar het begin en 'n hele paar gr. 1-mammas hou hul harte vas terwyl hulle kyk hoe hul "babas" deur die skoolhekke stap.
Die nuwe skooljaar het begin en ‘n hele paar gr. 1-mammas hou hul harte vas terwyl hulle kyk hoe hul “babas” deur die skoolhekke stap.
Ernestine Wepener is een so mamma. Haar oudste dogtertjie, Meckayla, is hierdie jaar in gr. 1 by Laerskool Pietersburg (Suidskool). “Sy was verlede jaar in gr. R in Suidskool, so al haar maatjies gaan darem daar wees,” sê Ernestine.
Ernestine dink die jaar gaan vir haar, as ma, baie moeilik wees, al was Meckayla verlede jaar reeds op skool.
“Sy word so vinnig groot en as haar hart seer is, is myne ook seer. Die vakansie was so lekker lank; ek het so geheg geraak aan haar. Ek gaan haar mos vreeslik mis,” sê sy.
“Dit gaan tog makliker wees as verlede jaar, maar dis tog ‘n nuwe stap in ‘n half vreemde rigting.”
Ernestine dink dit gaan nog moeliker vir haar wees wanneer haar seuntjie, Jayden, oor ‘n paar jaar ook skool toe moet gaan. “Ek dink dit gaan 20 keer erger vir my wees.”
Sy sien die meeste uit na Mekayla se goeie punte, maar haar grootste vrees is dat Meckayla nie haar beste sal gee nie. “Ek is ook nogals bang dat sy nie aan sport sal wil deel neem nie, ek wil hê sy moet aan sport deelneem.”
Ernestine voel dat gr. 1 nou baie moeiliker is as toe sy in gr. 1 was. “Daardie tyd het ons nie wiskunde gedoen nie, net geleer tel. Deesdae doen die kinders in gr. 1 al gr. 3-werk.”



