POLOKWANE – Sadé Crowder (18) staan deesdae bekend as Westenburg se trots, nadat sy vyf onderskeidings in die 2013-matriekeksamen ingepalm het.
Dié matrikulant van Hoërskool Pie-tersburg (PHS) het onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, geskiedenis en lewenswetenskappe behaal.
“Ek is mal oor geskiedenis en het ook verlede jaar ‘n vakprys gekry vir dié vak,” vertel Sadé.
Sy en haar oupa, Willie, is reeds Dinsdagoggend, die dag wat die uitslae bekendgemaak is, vroeg na die plaaslike winkel om ‘n koerant te koop. “Dit was ‘n ongelooflike gevoel. Ek het nie woorde om dit te beskryf nie,” sê sy.
Die hoogtepunt van Sadé se dag was toe die bure vir haar ‘n erewag gevorm het en vir haar hande geklap het soos sy huis toe gestap het saam met haar oupa. “Ek kon nie ophou ‘smile’ nie. My wange was die aand seer so baie het ek geglimlag,” vertel Sadé.
Sadé was ‘n baba toe haar ma dood is en sy is toe in haar grootouers se sorg geplaas. Haar ouma, Rose, sê dit het nie altyd finansieël goed gegaan nie. “Daar was moeilike omstandighede op Sadé se pad, maar ten spyte van dit alles het sy sukses behaal. Ons is baie trots op haar. Sy het die Crowder-naam hoog gehou.”
Sadé was in Laerskool Ivy Park waar sy elke jaar een van die top-leerders in haar graad was. Sy het so goed gedoen dat sy ‘n beurs gekry het om haar skoolloopbaan by PHS te voltooi. “Ek sou dit nooit kon doen sonder juffrou Nellie Buys nie. Sy het my gehelp om aansoek te doen vir ‘n beurs by PHS. Ek sal haar altyd dankbaar wees.”
In PHS het Sadé elke jaar ‘n klub-80 balkie ontvang. Sy was ook deel van die skool se debatspan en het verskeie kompetisies gewen.
Sy sê sy is baie hartseer dat haar hoërskoolloopbaan verby is en sy gaan haar onderwysers en vriende baie mis, maar sy sien uit na die volgende avontuur wat voorlê.
Sadé is aanvaar om regte te studeer aan die Universiteit van Pretoria, maar het nog nie genoeg geld bymekaargemaak om te registreer nie. Sy is egter vasbeslote dat dit haar nie gaan terughou nie. “My oupa sê altyd vir my: ‘moenie dat jou omstandighede jou terughou nie. Moenie langs jou of agter jou kyk nie, kyk net voor jou, want sukses lê voor jou en nie agter of langs jou nie’.
Ek weet ek gaan sukses behaal en hierdie probleem is net ‘n klein spoedhobbel wat ek gaan oorkom,” sê sy.



