Nadia Prinsloo (18) is ‘n skoolverlater met ‘n brein vir wiskunde en ‘n groot droom.
Hierdie intelligente jong vrou het haar skoolloopbaan by Oosskool begin en aan Curro Heuwelkruin gematrikuleer met Afrikaans, Engels, wiskunde, wiskunde vraestel 2, lewenswetenskappe, rekeningkunde, fisiese wetenskappe en lewensoriëntering as vakke. Sy het vierde onder Heuwelkruin se top tien akademiese presteerders geëindig.
“My gunsteling vak was wiskunde, want dit is boeiend. As jy eers met ‘n som begin, wil jy hom doen tot jy die oplossing kry. Wiskunde daag jou uit om vir jouself te dink. Dit is nie soos leerwerk wat jy soos `n papegaai leer nie, jy moet dit verstaan. As jy wiskunde eers verstaan, maak dit `n ander wêreld vir jou oop,” het sy aan Review vertel.
Toe Nadia sewe jaar oud was, wou sy net op die plaas bly en na die diere omsien, maar nou gaan sy ‘n B.Sc.-kursus aan die Universiteit van Pretoria volg. “Ek wil aktuariële wiskundige vakke neem en in my tweede jaar oorskakel na B.Sc Aktuariële Wiskunde. Die kursus is gebaseer op kalkulus, statistiek en ekonomie.”
Nadia het vertel dat sy nie ‘n besige sosiale lewe gehad nie. Volgens haar het leerders in gr. 12 nie veel vrye tyd vir iets anders behalwe skoolwerk nie.
“Ons het ook ver van die skool af gebly en het elke dag 80km skool toe gery. Met dié lang rit elke dag was daar nie tyd vir buitemuurse aktiwiteite nie, dus het ek ook glad nie aan sport deelgeneem nie. Die enigste buitemuurse aktiwiteit waaraan ek wel deelgeneem het, was klavierlesse.”
Nadia het verduidelik sy voel as ‘n leerder aangelê is vir sport of ander buitemuurse aktiwiteite, is dit goed om daaraan deel te neem. “Maar as jy nie `n sportiewe kind is nie sal ek sê mens moet nie gedwing word om dit te doen nie. Elkeen het dit waarin hy of sy goed is, of dit nou sport of kultuur of akademie is.”
Nadia sê sy het geen spesifieke rolmodel op hoërskool gehad nie. “Ek gebruik die Bybel as my gids in die lewe. Mense is feilbaar en daarom het ek nie ‘n persoon as ‘n rolmodel nie.” Haar ma het haar in alles wat sy aangepak het, ondersteun.
Oor vyf jaar hoop Nadia om ‘n honneursgraad agter haar naam te kan skryf en om in ‘n goeie posisie aan-gestel te word.
Sy het in gr. 12 by die Ngwana Babahuis gemeenskapsdiens gedoen en besef hoe wreed die wêreld werklik is. “Ek het besef hoe bevoorreg ek werklik is om ouers te hê wat my werklik wil hê.”



