Rita Hageman is aangewys as die top wiskunde geletterdheid-onderwyser in Limpopo tydens die onderwysdepartement se onlangse prysuitdeling.
Rita is ‘n ou hand in die onderwys en hou al 31 jaar lank skool. Sy het al al die grade onder hande gehad.
Sy is die afgelope 10 jaar in Hoërskool Pietersburg se wiskundedepartement gestasioneer waar sy al ses jaar lank wiskundegeletterdheid aanbied. Sy sê haar vak is baie belangrik omdat dit beteken dat die leerders basiese syfervaardighede leer asook hoe om dit toe te pas in hul daaglikse lewens.
Sy vertel dat wiskunde nie aanvanklik haar eer-ste keuse was nie omdat sy eintlik ‘n biologie-onder-wyser is, maar daar was ‘n behoefte aan wiskunde-onderwysers en sy het aangebied om te help omdat sy die vak geniet.
Haar raad aan nuwe onderwysers is om te onthou dat dit meer as net ‘n werk is: dis ‘n leefwyse en jy moet verseker passie daarvoor hê. “Jy moet baie van kinders hou en begrip vir hulle hê.” Respek en aanvaarding van elke kind vir wie hy of sy is, is baie belangrik vir Rita. Sy glo ook dat leerders moet weet waar hul grense is en dat daar moet orde wees sodat hulle kan presteer.
“As ek alles sal kan oordoen sal ek weer die onderwys kies. Om met kinders te kan werk beteken jy werk met die kroon van God se skepping en dis voorwaar ‘n voorreg,” sê sy.



