NewsSchools

PHS se Poort na Kennis oopgemaak

Hoërskool Pietersburg (PHS) se eerste skooldag het Woensdag begin met die skool se amptelike opening van hulle Poort na Kennis.

POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg (PHS) se eerste skooldag het Woensdag begin met die skool se amptelike opening van hulle Poort na Kennis.

PHS se Poort na Kennis is twee massiewe houtdeure wat aan die begin en einde van elke akademiese jaar seremonieel oop- en toegemaak word om die leerders se vrye toegang tot kennis te simboliseer.

Aan die einde van die jaar word dié deure ook gebruik om die gr. 12s se oorgang na die wêreld buite die skool uit te beeld.

Tydens die seremonie staan die leerders aan die een kant van die deur en die onderwysers aan die anderkant.

Die hoofseun en -meisie klop namens die leerders aan die deur en die skoolhoof vra wat hulle wil hê. Die leerders antwoord dat hulle na die sleutel tot kennis soek, waarna die hoof vra waarom hulle dit wil hê. Indien die antwoord hom welgeval, gee hy toestemming dat die deure oopgemaak kan word. Die leerders stap dan deur die Poort na Kennis in die skoolsaal in.

Die gr. 12-klas van 2012 het hierdie gebruik by ‘n besoek aan ‘n universiteit gesien en so baie daarvan gehou dat hulle die twee deure aan die skool geskenk het om die Poort na Kennis te vorm.

Woensdag het die leerders en onderwysers ná die seremonie in die skoolsaal bymekaargekom. Skoolhoof, Willie Schoeman, het die skool se eregaste, die LUR vir openbare werke, Dickson Masemola, en DA raadslid, Lindy Wilson, verwelkom. PHS val in Wilson se wyk.

Wilson het gesê dat dit vir haar ‘n voorreg was om die skool se opening by te woon.

“Kennis is die sleutel tot sukses. Ek raai elke leerder aan om die sleutel in hul hande te neem en die naam van die skool met trots te dra,” het sy gesê.

Masemola het gesê dat die regering ten volle bewus is van hoe belangrik onderrig vir die ontwikkelling van Suid-Afrika is. Hy het ook leerders en onderwysers bedank vir PHS se bydrae tot uitmuntende onderwys in Limpopo.

“Hou aan met die goeie werk wat PHS een van die top-skole in die land maak. Ons as regering belowe om die nodige hulpbronne aan julle beskikbaar te stel,” het hy gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button