MAKHADO – Leandra Bester is een van Hoërskool Louis Trichardt se matrikulante wat uitstekende uitslae in verlede jaar se matriekeksamen behaal het.
Sy het onderskeidings in lewenswetenskappe, Engels en lewensoriëntering behaal.
Dié slimkop sê sy het ernstig gehoop en gebid dat sy ‘n onderskeiding sou kry in lewenswetenskappe, want sy het dit nodig gehad vir haar onderwysstudies aan Unisa.
Leandra vertel sy het in die derde kwartaal al geweet sy sou ‘n onderskeiding in lewensoriëntering behaal.
“Die lewensoriënteringsonderwyser was die oulikste onderwyser. Sy het dit vir almal baie lekker gemaak. Dis hoekom so baie van ons so goed gedoen het in daardie vak,” het sy verduidelik.
Sy sê sy het die onderskeiding in Engels verwag en was baie bly om te sien sy het dit inderdaad gekry.
Leandra glo dat balans baie be-langrik is vir enige leerder.
Sy het nie net akademies presteer nie, maar het ook goed gevaar op die sportveld waar sy aan atletiek en hokkie deelgeneem het.
“Ek het baie goed geleer, maar my beplanning was baie goed, so ek het tyd gehad vir sport ook,” sê sy.
Leandra se ondersteuningsnetwerk is haar ouers, Hester en Hendrik.
Sy is ook baie dankbaar vir haar onderwysers, veral Hanéne Minnie en Sareta Botha, vir hulle hulp en aanmoediging.



