MAKHADO – Janeska Pretorius het rede om breed te glimlag nadat sy ses onderskeidings in verlede jaar se matriekeksamen behaal het.
Sy het onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, rekeningkunde, besigheidstudies en rekenaartoepassingstegnologie behaal.
“Ek het vreeslik bekommer oor my uitslae, maar toe ek my uitslae sien, kon ek dit nie glo nie.
“Ek het dit oor en oor getel. Ek het selfs my ma gevra om ook te tel om seker te maak dat dit regtig ses onderskeidings is,” het sy vertel.
Janeska het in haar gr. 12-jaar alleenlik op haar akademie gefokus en nie aan enige sport deelgeneem nie.
“Ek het alles in my studies ingesit want ek weet waarheen ek werk en wat ek wil bereik,” het sy verduidelik.
Vanjaar gaan sy haar by die ander groentjies van die Noordwes Universiteit aansluit om B.Com-rekeningkunde te studeer. Sy wil eendag ‘n geoktroöoieerde rekenmeester wees.
Janeska is baie dankbaar vir haar ouers, onderwysers en vriende se ondersteuning.



