NewsSchools

Groentjies gesels oor hul gr. 8-ervaring

Een ding is seker, die stad se gr. 8-leerders het baie stories om te vertel noudat die skole se oriëntering en inseëning afgehandel is.

POLOKWANE – Een ding is seker, die stad se gr. 8-leerders het baie stories om te vertel noudat die skole se oriëntering en inseëning afgehandel is.

Review het met gr. 8-leerders van drie skole gesels om uit te vind hoe hulle die jaar sover beleef het.

Shane Strydom van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het prontuit erken dat hy maar bangerig was om die hoërskoollewe aan te durf.

“Ek was vreeslik bang die ouer leerders gaan my slaan, maar niks slegs het gebeur nie,” het hy gesê. Shane het egter nie die oriënteringsproses geniet nie. “Dit het gevoel of hulle ons boelie.”

Sy raad aan ander gr. 8’s is om die beste van elke saak te maak.

Jean Snyman is in Hoërskool Pietersburg (PHS) en het vertel hy het die ergste verwag van gr. 8, maar dat dit eintlik baie lekker is. Tydens sy inlywing moes hy vir ‘n boom blaf. “Dit was vet pret,” het hy gesê.

Lesego Mapalane is ‘n leerder aan Pepps. Hy het aan Review vertel dat hulle baie pret het by sy skool.

“My onderwysers is vriendelik en die inlywing was moeilik, maar nie te sleg nie.”

Sy raad aan sy gr. 8-maats is om respek vir mekaar en vir die onderwysers te hê.

Calwick Moloto is ook in Tom Naudé. Hy het vertel dat hy glad nie uitgesien het na gr. 8 nie.

“Ek het gedink dit gaan aaklig en moeilik wees, maar dit is nie so erg nie. Die inlywing was baie moeilik, maar ek het daarin geslaag om my kop hoog te hou,” het hy gesê.

Calwick het verduidelik gr. 8-leerders kan baat daarby om hard te leer en nie te vergeet wie hulle is nie.

Tido Matshaung van Pepps College het ook gedink gr. 8 sou anders wees as wat dit is.

“Dis lekker sover. Die inlywing was moeilik, maar ek is daardeur,” het hy gesê.

“Ek het geweet ons gaan ontgroen word en dit was groot pret. Dit was alles wat ek verwag het,” het Chené van der Merwe, van PHS, vertel. Haar raad aan ander gr. 8’s was om maar te maak soos die gr. 12’s beveel en om nie arrogant te raak nie.

Amor van Jaarsveld is ‘n Tommie wat gedink het gr. 8 gaan ‘n nagmerrie wees, maar sy het dit van die eerste dag af geniet.

“Gr. 8 is eintlik opwindend. Ons leer nuwe mense ken en selfs die ontgroening was lekker. Ek was styf en seer na die tyd, maar dit was groot pret.”

“Gr. 8 kom net een keer, gee jou beste en moenie bang wees nie,” was haar raad aan ander.

Christiaan Neethling van PHS het gedroom dat hy darem ‘n paar meisies sou ontmoet. “My droom is bewaarheid. Hier is so baie mooi meisies,” het hy vertel.

“Ons ontgroening was baie lekker. Ek moes ‘n koedoe, wat eintlik ‘n skoen was, vang en met ‘n mes steek.”

Tarren Harrison, ook van PHS, het vertel dat sy verwag het dat gr. 8 aangenaam sou wees, maar dat dit baie lekkerder is as wat sy verwag het. Sy het net nie die ontgroening altyd geniet nie.

“Ons moes swem op die gras en dit was nie baie lekker nie. Ek was bang om met gr. 8 te begin, maar dit is glad nie so erg nie. Dis eintlik baie lekker, selfs die inlywing was lekker. Ons is met respek behandel,” het Dominic Erasmus van Tom Naudé gesê.

“Gr. 8 raak al hoe beter, hoe meer mense ek leer ken. Gr. 8’s moet net hulle plek ken en nie voorbarig wees nie,” was Franco du Plessis van PHS se raad.

Phato Mabobo van Pepps het vertel dat hy elke dag in gr. 8 geniet het sover en dat hy uitsien na die res van die jaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button