NewsSchools

Westenburg Sekondêre Skool vrees ‘n verandering van taalbeleid

Ouers van Afrikaanssprekende leerders van die Westenburg Sekondêre Skool het Maandag deur die skool se beheerraad 'n petisie aan die Limpopo departement van onderwys oorhandig waarin hulle die behoud van Afrikaans as voertaal in die skool bepleit

POLOKWANE – Ouers van Afrikaanssprekende leerders van die Westenburg Sekondêre Skool het Maandag deur die skool se beheerraad ‘n petisie aan die Limpopo departement van onderwys oorhandig waarin hulle die behoud van Afrikaans as voertaal in die skool bepleit.

Volgens Eugele Lyle, van die skool se beheerliggaam, is ouers bang dat Afrikaans heeltemal uit die skool, wat tans ‘n dubbelmediumskool is, opgesê sal word. Slegs 25% van die leerders in die skool is Afrikaans en sowat 80% van die onderwysers is nie Afrikaanssprekend nie en gee slegs in Engels klas, het hy verduidelik.

“As hulle maar net helfte Afrikaans, helfte Engels gepraat het, maar die onderwysers gee net in Engels klas,” sê Lyle.

Hy sê slegs vier Afrikaanse leerders is verlede jaar bevorder na gr. 11 en hy skryf hierdie probleem aan die taalprobleem toe. Volgens hom kan die hoof ook nie Afrikaans praat nie.

“Wat sal word van die kinders wie se ouers, vanweë hulle sosio-ekonomiese omstandighede, nie kan bekostig om hulle kinders in Afrikaanse skole in Polokwane te plaas nie? Ouers wat werk trek reeds ook swaar, omdat skoolfonds in dié skole ‘n R1 000 plus per maand en die vervoerkoste minstens R500 per maand beloop,” het Lyle gesê.

Hy het ook verduidelik dat die ouers van baie ander Afrikaanssprekende leerders in Westenburg graag hulle kinders in dié sekondêre skool sou wou plaas omdat hulle daardeur baie geld sou spaar. “Dit is egter nie moontlik nie vanweë die skool se oorheersende gebruik van Engels as voertaal.”

Volgens Lyle was die meeste van die Engelsprekende leerders in die skool nie van Westenburg self afkomstig nie, maar van omliggende gebiede.

“Hulle word met busse hierheen aangery. Westenburg self is hoofsaaklik ‘n Afrikaanssprekende Kleurlinggemeenskap. Ons sal veg vir ons kinders se grondwetlike reg om in hulle moedertaal onderrig te word.”

Lyle het ook verduidelik dat die kwessie niks met rassisme te doen het nie. “Dis gewoonlik die eerste ding waarvan ons beskuldig word, maar dit is glad nie waar nie. Mense van alle rasse woon vreedsaam saam in Westenburg. Dis net by die skool waar daar probleme is.”

Die ouers vra in hulle petisie vir meer Afrikaanse onderwysers of ten minste onderwysers wat tweetalig is. Hulle vra ook dat die onderwysdepartement se beleid met betrekking tot voerareas toegepas word en Westenburg se kinders voorkeur sal kry by die skool in Westenburg, en nie kinders van enige buitestedelike gebied nie.

“Daardie kinders se ouers neem nie deel aan skoolbedrywighede nie, woon nie vergaderings by nie en help ook nie met fondsinsamelings vir die skool nie. Hulle bly te ver,” het Lyle gesê. Die beheerliggaam verwag die LUR se antwoord op die petisie binne sewe dae.

Die skool se hoof, Nkampe Petrus Monyama, het gesê hy kan nie kommentaar lewer nie en het Review na die departement van onderwys se woordvoerder, Phuti Seloba, verwys.

Seloba het gesê die skool sal ‘n dubbelmediumskool bly.

Hy het gesê die LUR vir onderwys, Dikeledi Magadzi, sal die ouers se versoeke aanspreek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button