POLOKWANE – Die dag waarna die gr. 8-leerders van Hoërskool Pietersburg uitgesien het, het uiteindelik verlede Donderdag aangebreek.
Dié groep leerders is finaal by die res van PHS se leerders ingelyf by die skool se jaarlikse Aand van Sterre gala-aand.
Tydens hierdie konsert is al die gr. 8’s se harde werk en oefening van die afgelope weke beloon met ‘n uitstekende produksie op die planke en ‘n waarderende gehoor.
Venus-huis het die aand afgeskop met die storie van Shrek en hoe hy eers sy eiewaarde moes leer ken voordat hy gelukkig kon wees. Dié storie het ook gewys dat die liefde alles oorwin.
Volgende aan die beurt was Saturnus-huis met hulle weergawe van die eeu-oue verhaal van Sneeuwitjie. In hierdie weergawe wil die koningin nie hê Sneeuwitjie moet skool toe gaan nie, maar die sewe dwergies bring haar na PHS waar sy gelukkig op die skoolbanke kan wees.
Aarde-huis was volgende aan die beurt met hulle storie van Koning Julian. Dié vertoning het gekonsentreer op die mens se groeiproses en veranderinge wat mense deurgaan soos wat hulle ouer word.
Laaste het die span van Jupiter-huis aan die beurt gekom met hulle verhaar van die Smurfies wat geleer het hoe belangrik vriendskap is.
Aan die einde van die Aand van Sterre het die beoordelaars het koppe bymekaargesit terwyl die nuwe personeel van die skool ‘n skreeusnaakse item gelewer het. Hulle het selfs die geboorte van PHS se geliefde Kardoesie uitgebeeld.
Saturnus-huis is as die wenner van die aand aangewys. Hulle het ook die beste danse gelewer en die beoordelaars het gevoel hulle het die spyker op die kop geslaan met hulle fyn humor.








