NewsSchools

Wat is Valentynsdag?

Elke jaar op 14 Februarie kom die wêreld vir 'n dag byna tot stilstand en vier geliefdes die dag van liefde, Valentynsdag.

POLOKWANE – Elke jaar op 14 Februarie kom die wêreld vir ‘n dag byna tot stilstand en vier geliefdes die dag van liefde, Valentynsdag.

Winkels word versier met rooi versierings en harte, leerders dra rooi en liefdesboodskappe word uitgedeel.

Review gesels met gr. R leerders van Laerskool Pietersburg om te hoor of hulle weet wat Valentynsdag is en of hulle iemand in die oog het om dié dag mee te vier.

“Valentynsdag is wanneer daar baie hartjies is en almal briefies skryf,” vertel Marnich Erasmus. Hy sê hy gaan op Valentynsdag vir sy ma ‘n briefie stuur. “My ma se naam is mamma en ek is baie lief vir haar,” sê hy.

“Dit is wanneer ek verjaar,” sê Li-Mei Wessels wat nie ‘n kêrel het nie. “Ons gee op dié dag vir mamma en pappa briefies.”

“Valentynsdag is om kaartjies en hartjies te maak,” sê Letsatsi Setoga wat beslis nie ‘n meisie wil hê nie.

Miné van Veen gee vir haar mamma en pappa briefies op Valentynsdag. “Ek skryf daarop ek is lief vir hulle,” sê sy. Miné se kêrel is Bennie en hy is in ‘n ander skool.

“Dan kan ons zoo toe gaan en die leeus sien. Ek het al ‘n leeu gesien toe ek saam met my mamma en pappa gegaan het,” verduidelik Armand Hartman wat Valentynsdag vir hom beteken. “Ek het nog nie ‘n meisie nie, ons mag nie in gr. R ‘n meisie hê nie, eers in gr. 8 in Tom Naudé,” vertel hy.

“My maatjie, Ferdi, is in ‘n ander skool,” vertel Lejané Bredenkamp. “Op Valentynsdag skryf ons briefies vir mamma en pappa en ons skryf bo-op ons is lief vir julle,” vertel sy.

Lize-Mari Potgieter skryf briefies om vir haar mamma, pappa en juffrou te gee op Valentynsdag. “Ek gee vir hulle briefies met hartjies op,” verduidelik sy.

Die tweeling Quinton en Loudy James skryf baie briefies met baie prentjies vir baie maats. “Ons het nie meisies nie, want ons is boeties en ons is ‘n tweeling,” verduidelik hulle.

“Op Valentynsdag maak ons briefies en hartjies met baie blinkers op,” vertel Keagan Neethling. “Ek het nog nie ‘n meisie nie, want ek het nog nie haar gevra nie en ek gaan ook nie,” sê hy.

Marco Halgryn sê Valentynsdag is wanneer daar baie hartjies by die skool is en almal rooi aantrek. “My meisie is Suzie, maar sy is al groot,” vertel hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button