POLOKWANE – Curro Heuwelkruin se gr. 4 tot 10-leerders het vanjaar begin om tabletrekenaars in plaas van tradisionele handboeke te gebruik.
Leerders se ouers is reeds in 2013 touwys gemaak oor die spesifikasies van die tablette wat leerders moes aankoop en al die werk is in die eerste skoolweek op die tablette gelaai.
Review het met ‘n paar leerders en skoolhoof, Eben Lingenfelder, gesels om te hoor hoe hulle hierdie oorgang ervaar.
“Daar was ‘n paar tandekry-probleempies, maar oor die algemeen is ons byna 100% funksioneel en klasse gaan normaal voort.
“Die kinders is vreeslik opgewonde en die tablette werk wonderlik,” het Lingenfelder gesê.
Odine Swanepoel (gr. 5) het vertel dat sy dit baie geniet om die tablet te gebruik.
“Dit maak die klasse baie interessant, want die onderwysers gee vir ons video’s om oor die werk te kyk. Ons het ‘n video oor die sonnestelsel gekyk verlede week,” het sy gesê.
Ook Kayla Spies en Lizette Pretorius, beide in gr. 8 was baie opgewonde om tablette te gebruik.
Volgens hulle maak die videos en voorleggings dit makliker om die werk te onthou.
“Dit is iets nuuts. Ons raak nog gewoond daaraan om met die tablette te werk, maar dit is vreeslik lekker om addisionele inligting oor die werk te kry en video’s oor die werk te kyk. Dis lekker om die werk te sien en te hoor,” het Kayla gesê.



